Ekstra tyd kelder Proteas teen Engeland

netballsa-logoDie Suid-Afrikaanse nasionale netbalspan het Saterdag in Durban In die Quad-reeks in ʼn uiters opwindende wedstryd met 48-elk gelykop teen Engeland gespeel, maar die 14 minute ekstra tyd om ʼn wenner te bepaal was een hekkie te ver en die Proteas het uiteindelik 60-55 verloor.

Die uitslag is ʼn yslike verbetering op hulle eerste wedstryd teen die Rose in die Quad-reeks wat hulle verlede jaar 44-57 verloor het..

Die Proteas het die wedstryd baie goed begin deur die Rose se eerste senterafgooi te wen en hulle eie te behou. Maar Engeland is nie verniet derde op die wêreldranglys nie en hulle het gaandeweg die oorhand gekry.

Rustyd, na twee kwarte, was die Rose 28-17 voor. Die Proteas het in die doelsirkel teen die Engelse se puik verdediging gesukkel en die doelskietery het daaronder gely. Die Proteas het goed verdedig maar te dikwels onakkurate balle uitgegee.

Elf doele is ʼn groot agterstand en vir die Proteas was die skrif oënskynlik aan die muur  …

Norma Plummer, die ervare Aussie-afrigter van die Proteas, het gedurende rustyd vir Renske Stoltz met Lindie Lombard vervang en seker ook ʼn paar towerspreuke gespreek, want dit was ʼn ander Proteaspan wat die derde kwart 17-10 gewen en die vierde kwart net vier doele agter die Engelse rose begin het.

Hulle het op dié trant voortgegaan, die vier doele ingehaal en het aan die einde van die wedstryd gelyk getrek, 48-elk.

Die twee spanne moes toe twee helftes van sewe minute elk speel om ʼn wenner te bepaal.

Die Rose se groter ervaring op internasionale vlak het hulle die druk toe beter laat hanteer en die eindtelling na ekstra tyd was 60-55 in die Engeland se guns.

♦  Die Proteas speel Dinsdag teen die wêreldkampioen, die Australiese Diamonds, en dan vertrek die spanne Engeland toe waar die Proteas teen Nieu-Seeland sal speel.

♦  Australië het Nieu-Seeland Saterdag 57-50 in die eerste wedstryd van die dag in Durban geklop

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Well done ·

Well done meisies, ek is trots op julle- die wen gaan kom, dit is onvermydelik!

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.