Elizabeth kry haar adrenalien-doepa op haar ski’s

Elizabeth Olivier. Foto: Verskaf.

In Pretoria is sneeu so skaars soos hoendertande in Shoprite, maar dit stuit nie die 20-jarige Elizabeth Olivier nie.

Dié ingenieurstudent aan die Universiteit van Pretoria is die afgelope naweek by die Tifffindell-ski-oord in die Oos-Kaap as die Suid-Afrikaanse ski-kampioen gekroon. Nie net in die junior-afdeling nie, maar ook in die senior-afdeling. Dit is die tweede agtereenvolgende jaar dat sy dié besonderse prestasie behaal.

Nou, om teen ’n hang van 2 860 m op jou ski’s af te jaag sit nie in enigiemand se First Ascent-baadjie nie, maar Olivier is mal oor die adrenalien-inspuiting wat dit bied.

Bowenal is konsentrasie baie belangrik.

“Jy kry net een geleentheid om vooraf aan die hang gewoond te raak en dit is van kardinale belang om dié geleentheid ten volle te benut. Ek probeer om so veel as moontlik inligting in my geheuebank te stoor sodat ek effens voorbereid kan wees wanneer ek om die hoeke jaag,” sê Olivier.

“Die realiteit is dat indien jy ’n fout in jou lopie maak, daar ernstige nagevolge kan wees. Tot op hede was ek nog baie gelukkig; die ergste wat nog met my gebeur het, was toe ek teen ’n taamlike spoed getuimel het. My ken moes ná die tyd steke kry.”

Sy vertel egter dat een van haar vriendinne haar skouerbeen gebreek het, terwyl haar broer sy knieligamente geskeur het.

“Ek was gelukkig genoeg om ook op die internasionale hange te gaan ski en dit het vir van die ongelooflikste herinneringe gesorg. Daar was tye toe ek op my eie op plekke was waar bittermin ander mense die kans sal kry om te gaan. Dít is waar jy werklik lewend voel en jy nie kan help om elke sekonde ten volle te benut nie – jy weet immers nie of jy ooit weer die kans sal kry om só iets te geniet nie.”

  • Olivier het Suid-Afrika by die Jeug Olimpiese Spele in 2016 verteenwoordig, sowel as by die Wêreldkampioenskap in 2017.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.