Emma wen, slaan oor na Roemeens

Emma Raducanu. Foto: Tim Nwachukwu/Getty Images/AFP.

Emma Raducanu, die jong Britse tennissensasie wat vroeër die Amerikaanse Ope gewen het, het haar ondersteuners ook in Roemeens bedank nadat sy met Polona Hercog in die Transsilvaniese Ope afgereken het.

Die eindtelling was 4-6, 7-5 en 6-1 en dit was haar eerste oorwinning sedert sy die silwerware in New York omhoog gehou het.

Die 18-jarige speler, wie se pa ʼn Roemeniër is en haar ma van Chinese afkoms is, is in Toronto gebore en sy het op tweejarige ouderdom saam met haar ouers na Engeland geëmigreer.

Sy het ná haar jongste oorwinning ook haar ondersteuners in Roemeens bedank.

“Dit beteken vir my baie om in my pa se land tennis te speel,” het sy ná afloop van die wedstryd gesê. Sy het later op Twitter geskryf dat sy baie in haar noppies met haar eerste WTA-oorwinning is.

“Baie dankie, ek is lief vir julle,” het sy haar twiet in Roemeens afgesluit.

Raducanu is deesdae sonder ’n afrigter nadat haar en Andrew Richardson se paadjies geskei het. Sy het egter die hoop uitgespreek om iemand vóór die Australiese Ope in sy plek aan te stel.

Tog heg sy ook waarde daaraan om selfstandig op die baan te wees.

“Dit is baie lekker om ’n afrigter te hê, maar jy is eintlik op jou eie in ’n wedstrydsituasie. Dit is nie goed om dan heeltyd van iemand anders se raad afhanklik te wees nie; jy moet jouself ook op die baan vertrou.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Rupert Ashford ·

Ek is mal oor Emma en baie bly vir haar oor die oorwinning.

Sy moet egter versigtig wees oor die afrigter-storie. As ons sommer net oppervlakkig kyk sien ons die Groot 3 en Andy Murray het aldrie altyd afrigtingspanne rondom hulle om hulle te help en te ondersteun, terwyl 2 van die grootste onvervulde talente op die ATP reeks (of onderpresteerders soos ons op skool daarna verwys het), SA se eie Wayne Ferreira and Nick Kyrios, beide spelers wat die talent gehad het om Grand Slams te wen, hierdie standpunt oor afrigters gehuldig het.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.