Wat podiumplekke betref, het die 2021-weergawe van die moordende Dakar-veldtydren nie eintlik vir veel verrassings gesorg nie.
Frankryk se Stephane Peterhansel het sy bynaam van Mnr. Dakar gestand gedoen toe hy verlede week met sy 14de titel weggestap het.
Die 55-jarige Peterhansel het sy agtste trofee in die motor-afdeling omhoog gehou, terwyl hy ook al ses keer met die louere in die motorfiets-kategorie weggery het.
“Dit voel steeds soos my eerste sege van 1991,” het die Fransman gesê.
Die wysheid en kundigheid wat saam met 30 jaar lange Dakar-ervaring kom, was ongetwyfeld een van die redes vir sy sukses tussen die sandduine.
“Dit is altyd ʼn ingewikkelde storie om die Dakar te wen; dit is nooit maklik nie. Dit lyk dalk maklik vir diegene wat nie agter die stuur is nie, maar ʼn mens moes sweet om die voorsprong bo Nasser te behou.
“Op die ou einde het ervaring vir die broodnodige kalmte gesorg.”
Katar se Nasser Al-Attiyah het tweede in sy Suid-Afrikaans geboude Toyota Hilux geëindig. Hoewel hy in verskeie skofte koning gekraai het, was hy steeds 14:51 min. agter Peterhansel.
Suid-Afrika se Giniel de Villiers (óók in ʼn Toyota) se agtste plek beteken dat daar drie Toyota-motors onder die top-10 geëindig het.
Die moordende veldtydren het egter nog ʼn slagoffer geëis toe Pierre Cherpin Vrydagoggend aan sy beserings dood is.
Die 52-jarige Fransman het verlede Sondag van sy motorfiets geval en ʼn reddingspan in ʼn helikopter het hom bewusteloos in die woestyn aangetref. Hy is dadelik na ʼn hospitaal in Saoedi-Arabië gehaas waar hy vir sy beserings behandel is.
Dokters en familielede was aanvanklik optimisties oor sy herstelpad en daar was geen komplikasies ná die operasie nie. Dakar-organiseerders het egter bevestig dat hy op pad terug na Frankryk dood is.
- Die finale plekke van Dakar 2021:
- Stephane Peterhansel/Edouard Boulanger (Mini) 44:28:11
- Nasser Al-Attiyah/Matthieu Baumel (Toyota) +13:51
- Carlos Sainz/Lucas Cruz (Mini) +1:00:57
- Jakub Przygonski/Timo Gottschalk (Toyota) +2:33:03
- Nani Roma/Alexandre Wnocq (Brx) +3:21:48
- Vladimir Vasilyev/Dmitro Tsyro (Mini) +3:29:38
- Sheikh Khalid Al-Qassimi/Xavier Panseri (Peugeot) +3:33:31
- Giniel de Villiers/Alex Haro Bravo (Toyota) +3:57:39
- Martin Prokop/Viktor Chytka (Ford) +4:09:21
- Cyril Despres/Michael Horn (Peugeot) +4:51:09
???????? @s_peterhansel and Edouard Boulanger are up on the podium as Dakar champs. It's Peterhansel's 14th title!#Dakar2021 pic.twitter.com/qkjoFBHZII
— DAKAR RALLY (@dakar) January 15, 2021