Evans sit rolbal-segetog voort  

Deur Gert de Jager

Jason Evans in aksie (Foto: Johannesburg Bowls Association)

Jason Evans is weer as rolbal se SA Meesters-enkelspelkampioen vir mans gekroon toe hy Gerry Baker Sondag met 21 – 14 by die Wingate Park-buiteklub geklop het.

Hy het daarmee sy posisie as Suid-Afrika se no. 1-manspeler bevestig, nadat hy onder meer ook vir Niksa Benguric, die 2021 SA Enkelspelkampioen, in die seksie-rondes geklop het. Dit is die derde keer in ʼn ry dat Evans die Meesters wen. Hy en Baker is albei van Morningside. Evans was deurentyd in beheer van die wedstryd en nadat hy ʼn voltal (4) op die agtste kop behaal het, het hy nooit teruggekyk nie.

Colleen Piketh van George is die Meesterskampioen vir vroue. Sy het Esme Haley van Linden met 21 – 15 geklop nadat die telling na die 15de kop op 13 elk gestaan het. Piketh moes ʼn paar keer diep delf om Haley van die telbord te hou in die wedstryd wat oor 23 koppe gestrek het.

Sestien van die voorste mans- en 16 van die voorste vrouerolbalspelers in Suid-Afrika het in die Ope-afdelings in twee seksies van agt elk meegeding.

Esme Haley in aksie (Foto: Johannesburg Bowls Association)

In die afdeling vir veterane is die nuwe mans Meesterskampioen Stoffel Lambrechts van Boland. Hy het Rudi Jacobs van Parys met 21 – 8 oorrompel nadat hy na agt koppe reeds 13 – 2 voor was.

Glenda Matthews (Stellapark) het die vroue Meesterstitel verower toe sy Pam Cole Cook (Banners Rest) met 21 – 18 geklop het. Matthews was na tien koppe met 2 – 15 agter, maar het verbete teruggeveg om te wen.

Colleen Piketh van George is die Meesterskampioen vir vroue (Foto: Johannesburg Bowls Association)

Na ʼn marathon-wedstryd van 28 koppe het Wilson Malobolo van Witpoortjie die junior mans se Meesterskampioen geword toe hy vir Paul White van Durban Wanderers met 21 – 17 getroef het. Hy het drie skote op die laaste kop gekry om te wen.

Carmen Fourie van Wingate Park het so byna-byna op haar tuisbaan geseëvier, maar Gillian Young van WP het dit verhoed. Sy het die rillerstryd met 21 – 20 gewen (27 koppe) om as Meesterskampioen van die junior vroue gekroon te word.

In die afdeling vir veterane en juniors (mans en vroue) het 12 van die voorste spelers in Suid-Afrika elk in die onderskeie afdelings meegeding. Die Meesters, een van die hoogtepunte op die Suid-Afrikaanse rolbalkalender, het oor drie dae gestrek en die reënweer van Vrydag en Saterdag het interessante eise aan die spelers gestel.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.