F1-aksie maak ’n Spaanse draai

Ferrari se Charles Leclerc. Foto: Twitter.

Ná die eerste vyf wedrenne van die jongste F1-seisoen is Max Verstappen en Charles Leclerc se tweestryd die spilpunt waarom die aksie draai.

Leclerc is weliswaar nog die voorloper op die jaerspunteleer in sy rooi Ferrari, maar wanneer Verstappen op die dag ’n wedren voltooi, is die kans baie goed dat hy ook met die louere sal wegjaag.

Die geruite vlag is reeds drie keer vir die Red Bull-renjaer geswaai en hy blaas nou in die voorloper se nek op die punteleer.

Volgens Christian Horner (Red Bull-spanbaas) het die twee renjaers wedersydse respek vir mekaar; hulle jaag al immers sedert hul knortjordae teen mekaar.

Red Bull se Max Verstappen. (Foto: Andrej Isakovic/AFP)

Maar wie is die beste tussen die twee? Volgens Shinji Nakano is Leclerc goed, maar Verstappen is beter.

“Ek glo dat Verstappen se beheer oor sy motor en sy vasberadenheid van hom ’n sterker renjaer maak,” het die Japanse oudrenjaer gesê.

Die F1-aksie maak hierdie naweek ’n Spaanse draai en volgens Nakano sal jaers soos Carlos Sainz en Fernando Alsonso hul bes doen om ’n goeie vertoning voor hul tuisskare te lewer.

Die Ferrari’s se bestendigheid om draaie sal egter van hulle gedugte teenstanders in Barcelona maak.

Jaerspunteleer:

  1. Charles Leclerc (Ferrari): 104 punte
  2. Max Verstappen (Red Bull): 85 punte
  3. Sergio Perez (Red Bull): 66 punte
  4. George Russell (Mercedes): 59 punte
  5. Carlos Sainz (Ferrari): 53 punte
  6. Lewis Hamilton (Mercedes): 36 punte
  7. Lando Norris (McLaren): 35 punte
  8. Valtteri Bottas (Alfa Romeo): 30 punte
  9. Esteban Ocon (Alpine): 24 punte
  10. Kevin Magnussen (Haas): 15 punte

Vervaardigerspunteleer:

  1. Ferrari: 157 punte
  2. Red Bull: 151 punte
  3. Mercedes: 95 punte
  4. McLaren: 46 punte
  5. Alfa Romeo: 31 punte

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Richard ·

Verstappen is sonder twyfel die beste jaer wat tans ry, maar ek sal nie omgee as Le Clerc hierdie jaar die haas uit die hoed pluk nie.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.