F1-eienaars maak beursie groot oop vir MotoGP

(Foto: Alberto Saiz/AP)

Liberty Media, die eienaars van Formula Een, gaan binnekort ook woema in MotoGP-wedrenne blaas.

MotoGP het in ʼn verklaring bevestig dat die Amerikaanse maatskappy ʼn aandeel van amper 90% in sy Dorna-eienaars bekom het. Die hele storie het Liberty ongeveer $4,5 miljard uit die sak gejaag en formaliteite behoort teen die einde van die jaar afgehandel te wees.

Daar word nog vir klaring en goedkeuring van die mededingings- en buitelandse beleggingsowerhede gewag.

MotoGP word as die toppunt van tweewielsportaksie beskou met 22 van die wêreld se voorste motorfietsryers wat teen vinniger as 360 km/h op die blitsbane van die internasionale verhoog jaag.

“Liberty Media sal ongeveer 86% van Dorna bekom, met die Dorna-bestuur wat 14% van sy ekwiteit in die onderneming behou,” het MotoGP in ʼn verklaring gesê.

Volgens die Financial Times het Qatar Sports Investments – die eienaars van Franse sokkerreuse Paris Saint-Germain – voelers uitgesteek, terwyl TKO Group Holdings, van die Ultimate Fighting Championship- en World Wrestling Entertainment-faam, ook samesprekings met Dorna gehou het.

Liberty het egter as wenner uit die stryd getree.

“Ons is opgewonde om ons portefeulje van toonaangewende regstreekse sport- en vermaaklikheidsaanwinste met die verkryging van MotoGP uit te brei,” het Greg Maffei, president en uitvoerende hoof van Liberty Media, gesê.

Die span van Liberty weet ongetwyfeld wat hy doen.

F1 geniet ongekende groei sedert die Amerikaners dit in 2017 vir $8 miljoen bekom het en Maffei meen dat die sport tans “baie meer” as $20 miljard werd is.

Carmelo Ezpeleta, die langsdienende uitvoerende hoof van MotoGP, is opgewonde oor die toekoms saam met Liberty.

“Liberty spog met ʼn ongelooflike getuigskrif wat die ontwikkeling van sportbates betref en ons kon nie vir ʼn beter vennoot gevra het om die MotoGP-handelsmerk wêreldwyd uit te brei nie,” het hy gesê.

  • Jorge Martin is tans die voorloper op die jongste seisoen jaerspunteleer, gevolg deur Suid-Afrika se Brad Binder.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Robert ·

Verstappen is tans een van die beste bestuurders wat die sport tot dusvêr opgelewer het. Marques se dae van voor ry is in my opinie iets van die verlede alhoewel hy op sy tyd baie goed presteer het…

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.