F1-enjins begin dán weer brul!

Die baan in Oostenryk. (Christian Bruna/AP)

Motorsportliefhebbers kan binnekort hul vere regskud vir skreeuendebande-aksie nadat Formule Een se beheerliggaam vandag agt wedrenne vir 2020 goedgekeur het.

Verskeie wedrenne, waaronder die Australiese en die skouspelagtige Monaco-resies, het vanjaar weens die wêreldwye Covid-19-pandemie in die slag gebly, maar daar is hard agter die skerms gewerskaf om die seisoen te beredder.

Die hersiende kalender sal nie net die terugkeer van F1-aksie verseker nie, maar organiseerders het  in ’n verklaring gesê dat hulle ook die gesondheid van alle betrokkenes in ag geneem het.

Agt wedrenne sal oor tien weke in ses Europese stede aangebied word. Spielberg in Oostenryk en Silverstone in die Verenigde Koninkryk sal elk vir twee agtereenvolgende wedrenne gasheer speel. Die Oostenrykse baan sal juis die eerste wedren in die begin van Julie aanbied.

Volgens organiseerders sal nóg wedrenne later bekend gemaak word en daar word gemik na tussen 15 en 18 wedrenne vóór Desember vir ’n behoorlike seisoen.

Die openingsrondes sal agter geslote deure aangebied word, maar hopelik word toeskouers wel binnekort toegelaat.

“Die gesondheid en veligheid van alle betrokkenes is ons hoofprioriteit en ons het verskeie maatreëls ingestel om die hoogste vlak van veiligheid te verseker,” lui die verklaring.

Die agt wedrenne:

  • 3-5 Julie: Spielberg, Oostenryk
  • 10-12 Julie: Spielberg, Oostenryk
  • 17-19 Julie: Boedapest, Hongarye
  • 31 Julie tot 2 Augustus, asook 7-9 Augustus: Silverstone, Verenigde Koninkryk
  • 14-16 Augustus: Barcelona, Spanje
  • 28-30 Augustus: Spa-Francorchamps, België
  • 4-6 September: Monza, Italië

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

koos10 ·

Dis goeie nuus vir my. F1 kyk ook na omgekeerde ry op bane, maar in my opinie is dit nie haalbaar nie. Bane is ontwerp met hoë spoed inpakte in die kante vas vanaf een rigting in gedagte, as die karre nou in ander rigting ry, gaan al die veiligheids aspekte ook verander moet word, en ek dink daar is nie tyd of geld om dit te doen nie.
Wat van meer punte vir die vinnigste rondte of punte vir die vinnigste kuipe stop of 5 punte vir posisie en, twee en drie op kwalifiseering? Of ‘n bonus punt as albei karre ‘n ren voltooi of in die top 10 kwalifiseer? Ek weet dit is seker onmoontlik om dit nou in te stel, so ek hoop ook maar net.
Dit sal kleiner spanne dan dwing om uit die boks te dink.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.