F1-kenners bevraagteken Verstappen se straf

Die naweek se Italiaanse Grand Prix het vir drama gesorg. Foto: Andrej Isakovic/AFP.

Jacques Villeneuve, die voormalige F1-renjaer, meen Max Verstappen se straf is onregverdig.

Die 23-jarige Red Bull-renjaer is met drie plekke op die wegspringrooster vir die komende Russiese Grand Prix gestraf nadat beamptes bevind het dat hy “hoofsaaklik die skuld dra” vir Sondag se botsing met Lewis Hamilton.

Maar volgens Villeneuve is Verstappen om die verkeerde redes gestraf.

“Hulle het hom gestraf omdat sy renmotor bo-op Hamilton se Mercedes geland het. Die nagevolge van die voorval is dus gestraf, nie die aksie self nie,” het die 50-jarige Kanadees gesê.

Verstappen se regteragterband het Hamilton se kop rakelings gemis en al twee renjaers se wedren was verby.

“Max is altyd baie aggressief agter die stuur, maar Lewis bestuur met selfs meer aggressie. Maar wat in Monza gebeur het, is deel van die sport. As jy elke keer ’n renjaer vir so iets straf gaan hulle dit binnekort nie meer waag om mekaar verby te steek nie.”

Volgens Fernando Alonso was dit ook nie nodig om ’n groot bohaai oor die voorval te maak nie.

“Alles het teen ’n lae spoed gebeur en daar was min gevaar. Wat op Silverstone gebeur het, was ’n ander storie, maar hier het al twee renjaers net gedoen wat hulle moes,” het Alpine-renjaer gesê.

Kees van de Grint, die Bridgestone-bandspesialis in Michael Schumacher se dae, meen dat dit alles deel van ’n F1-wedren uitmaak; ’n “racing incident”, soos ’n Engelsman sou sê.

“Ons het al maande gelede voorspel dat so iets gaan gebeur omdat nie een van hulle terughou op die renbaan nie. Max kon seker ’n ander roete gevat het, terwyl Lewis hom meer spasie kon gegun het; maar hulle het dit nie gedoen nie.”

Op sy beurt het Hamilton gesê dat hy trots is op die beamptes wat vir Verstappen gestraf het.

“Dit skep beslis ’n presedent en ek dink om vorentoe te beweeg is dit belangrik dat daar streng reëls van toepassing is om die veiligheid van die renjaers te verseker,” het Hamilton gesê.

“Ek is so dankbaar dat ek steeds hier is. Ek voel ongelooflik geseënd dat iemand vandag oor my gewaak het. Ek dink nie ek is al ooit deur ʼn motor op die kop getref nie en dit was nogal ʼn groot skok vir my,” het die Mercedes-renjaer ná die wedren gesê.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.

17 Kommentare

jongste oudste gewildste
Brakanjan

Ek stem saam met Villeneuve! Hierdie was ‘n plein net ‘n “racing incident”

Tino

So tipies, Lewis kan vir Max teen hoe spoed laat verongeluk maar waneer daar teen lae spoed ‘n klein insident is dan het Lewis by die dood omgedraai en speel die armsalige afgeskeepde bloedjie. Siestog

Kaptein67

Almal weet dit gaan eintlik net oor politiek

Jack Russ1

Dit is duidelik dat die besluit nie deur F1-kenners gemaak is nie maar persone wie se agenda nie F1 is nie

koos10

Ek stem saam dat die ‘n racing incident was, maar daar was opgetree op Silverstone, so nou moet daar weer opgetree word.
Ek dink daar moet na Michael Masi se rol in F1 gekyk word. Ek dink nie hy is die regte persoon vir die pos nie.