F1: Mercedes eindig 1ste én 2de in Spanje

Lewis Hamilton. Foto: AP Photo/Andre Penner

Die vyfde Formule Een Grand Prix van die 2018-seisoen is Sondag in Spanje afgehandel. Die wedren is in Barcelona op die Catalunya-baan gejaag en was die eerste van die Europese been van die seisoen.

Die wedren oor 66 rondtes is gemaklik deur Lewis Hamilton (Mercedes) gewen met sy spanmaat Valeterie Bottas (Mercedes) tweede en Max Verstappen (Red Bull) derde. Sebastian Vettel (Ferrari) kon net vierde oor die eindstreep jaag.

Die twee Mercedes-motors was in die voorste ry op die wegspringrooster, gevolg deur die twee Ferrari-motors, met beide Red Bull-motors in ry drie.

  1. Lewis Hamilton Mercedes
  2. Valtteri Bottas Mercedes
  3. Sebastian Vettel Ferrari
  4. Kimi Räikkönen Ferrari
  5. Max Verstappen Red Bull
  6. Daniel Ricciardo Red Bull

Met die wegspring het Vettel voor die eerste draai in die tweede plek ingeskuif. Daar was ʼn ongeluk in draai drie wat drie van die motors in die middel van die veld uitgeskakel het (Hülkenberg, Gasly en Grosjean). Die veiligheidsmotor is ontplooi terwyl die baan skoongemaak is. Met die hervatting van die wedren was ses rondtes reeds voltooi.

Tydens die eerste derde van die wedren het Hamilton (Mercedes) en Vettel (Ferrari) steeds die eerste en tweede posisies gevul. Valtteri Bottas (Mercedes) het bestendig gejaag en was deurentyd derde met Kimi Raikkonen (Ferrari) vierde. Max Verstappen en Daniel Ricciardo van Red Bull was vyfde en sesde.

Die eerste besoek aan die kuipe om bande te ruil het in die 19de rondte plaasgevind. Kimi Räikkönen (Ferrari) het in die 26ste rondte probleme met sy motor ondervind wat gelei het tot sy onttrekking aan die wedren.

Sommige spanne het twee keer bande geruil, wat veral aan Red Bull ʼn voordeel gegee het met hul strategie om net een keer te stop. Tydens die 42ste rondte is die veiligheidsmotor weer ontplooi en Vettel het vir ʼn tweede keer bande gaan ruil. Hamilton was daarna eerste, Bottas tweede, met Verstappen derde en Vettel vierde.

Lewis Hamilton het tot aan die einde voor gejaag met sy spanmaat Valtteri Bottas tweede en Verstappen derde. Vettel kon net vierde eindig.

Lewis Hamilton loop nou met 17 punte voor op die punteleer.

PosRenjaerSpanPunte
1Lewis HamiltonMercedes GP95
2Sebastian VettelFerrari78
3Valtteri BottasMercedes GP58
4Kimi RäikkönenFerrari48
5Daniel RicciardoRed Bull47

Kliek hier vir meer inligting.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Koos1 ·

Wat my verstom is dat die bane nie goed geboeg skoon gemaak word nie. 2 weke terug en gister weer gesien. Die veiligheids motor word ontplooi om ‘n veiliger werksarea vir die personeel te skep, en dan word dit nie goed genoeg gedoen nie. Selfs ‘n klippie op die pad kan ‘n pap wiel veroorsaak wat ernstige gevolge kan inhou.
Kan dit dalk met opset so gelos word om “drama” by die renne te voeg, soos wat twee weke terug met Bottas gebeur het?

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.