F1: Nuwe krageenheid wag op enjins in Montreal

Foto: AP Photo/Luca Bruno

Die Kanadese Formule Een Grand Prix word Sondagaand (10 Junie) gejaag. Die wedren word op die Gilles Villeneuve-baan in Montreal afgehandel en verskeie spanne kon nie wag vir die wedren nie. Die rede daarvoor is dat dit die sewende wedren van die seisoen is en die enjinvervaardigers mag nou verbeterde krageenhede vir hul enjins gebruik.

Honda is een van die enjinvervaardigers wat ʼn gemoderniseerde krageenheid na die baan gaan bring. Berigte wil dit hê dat Honda se enjins soveel as 40 perdekrag meer gaan lewer. Dis veral die Toro Rosso bestuurders, Brendon Hartley en Pierre Gasly, wat baie uitsien na Vrydag se oefenrondes om presies te bepaal wat die verandering gaan wees.

Die ander uitstaande aspek van die Gilles Villeneuve-baan is die stadige draaie en hoëspoedpylvakke wat aan die baan die bynaam gegee het van die rembreker. Dis een van die brandpunte van Sondag se wedren: Hoe oorleef die remme 70 meedoënlose rondes (305 km)? Die pylvakke is lank genoeg om die topsnelheid te bereik, maar nie lank genoeg om die remme te laat afkoel nie.

Die vorige wedren in Monaco is deur Daniel Ricciardo (Red Bull) gewen wat van begin tot einde voorgejaag het. Sebastian Vettel het tweede in sy Ferrari geëindig terwyl die huidige wêreldkampioen en voorloper op die punteleer, Lewis Hamilton (Mercedes), derde was.

Dit was reeds in Monaco duidelik dat Red Bull se motors met nuwe, ekstra spoed spog en groot druk op die ander spanne vir die res van die seisoen gaan plaas.

Die oefenrondes in Kanada begin Vrydag terwyl die wegspringrooster Saterdag tydens die kwalifisering bepaal sal word.

Die voorloper op die punteleer ná ses wedrenne is Lewis Hamilton wat 14 punte meer het as Sebastian Vettel.

PosRenjaerSpanPunte
1Lewis HamiltonMercedes GP110
2Sebastian VettelFerrari96
3Daniel RicciardoRed Bull72
4Valtteri BottasMercedes GP68
5Kimi RaikkonenFerrari60

Die wegspring is Sondagaand om 20:05 (Suid-Afrikaanse tyd).

Klik hier vir meer inligting.

 

 

 

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.