F1-titelgeveg op mespunt gebalanseer

Lewis Hamilton en Max Verstappen spook sake in Saoedi-Arabië uit. Foto: Twitter.

Ná ’n aksiebelaaide Grand Prix in Saoedi-Arabië – waar die straatrenbaan in Jeddah se strate vir ’n hele paar onderbrekings en botsings gesorg het – is Lewis Hamilton en Max Verstappen nou gelyk op die jaerspunteleer.

Omstredenheid volg egter kort op die hakke van die twee wêreldtitel-aanspraakmakers se swaardekruis-sessies en F1-beamptes moes gereeld tussenbeide tree.

Die grootste twispunt (waaroor Mercedes- en Red Bull-ondersteuners nog lank om die braaivleisvure gaan kibbel) het in die 37ste ronde van die wedren plaasgevind.

Verstappen het in die voorafgaande rondes sy plek voor in die wedrenkoor dalk met te veel aggressie verdedig en hy is aangesê om sy plek aan Hamilton af te staan.

Die Red Bull-renjaer het terstond ankers aangeslaan om vir Hamilton verbykomkans te gee, maar die verdedigende wêreldkampioen is onkant betrap en hy het teen sy aartsvyand vasgejaag.

Nodeloos is daar ’n bohaai opgeskop en Verstappen is onder meer met tien sekondes beboet. Hy het egter sy podiumplek behou en die geveg om die wêreldtitel stuur nou op ’n opwindende slottoneel in Abu Dhabi af.

F1-ondersteuners het terselfdertyd ook gestem dat die jong Nederlander die bestuurder van die dag was.

Tog was Hamilton warm onder die kraag en hy het Verstappen daarvan beskuldig dat hy nie respek vir F1 se reëls en regulasies het nie.

“In my loopbaan het ek al ’n paar karakters teëgekom wat dinge te ver op die baan voer; Max is ongetwyfeld een van hulle. Ek moes al soveel kere botsings met hom probeer vermy,” het Hamilton gesê.

Volgens die Mercedes-renjaer was hy onbewus van die feit dat Verstappen vir hom moes plek maak.

“Ek het nie geweet wat aan die gang was nie en alles was baie deurmekaar. Hy het net uit die bloute stadiger gery en ’n bietjie op die renbaan begin rondbeweeg. Ek het aanvanklik gedink dis die een of ander taktiek.

“Die volgende oomblik rem hy en ek moes vinnig spring om ’n ernstiger botsing te vermy. Vir Max maak dit nie saak as nie een van ons die wedren voltooi nie; daarteenoor wil ek hê dat ons al twee moet klaarmaak.”

Verstappen meen dat gebrekkige kommunikasie die hoofrede vir die botsing was.

“Ek is aangesê om die plek vir hom terug te gee en het dadelik na regs beweeg – om te wys dat ek plek maak – en ek het gerem. Hy het net heeltyd agter my gebly; ek dink swak kommunikasie het ’n groot rol in alles gespeel,” het Verstappen gesê.

Uitslae:

  1. Lewis Hamilton (Mercedes)
  2. Max Verstappen (Red Bull)
  3. Valtteri Bottas (Mercedes)
  4. Esteban Ocon (Alpine)
  5. Daniel Ricciardo (McLaren)
  6. Pierre Gasly (Alphatauri)
  7. Charles Leclerc (Ferrari)
  8. Carlos Sainz (Ferrari)
  9. Antonio Giovinazzi (Alfa Romeo)
  10. Lando Norris (McLaren)

Jaerspunteleer:

  1. Max Verstappen 369,5 punte
  2. Lewis Hamilton 369,5 punte
  3. Valtteri Bottas 218 punte
  4. Sergio Perez 190 punte
  5. Charles Leclerc 158 punte
  6. Lando Norris 154 punte
  7. Carlos Sainz 149,5 punte
  8. Daniel Ricciardo 115 punte
  9. Pierre Gasly 100 punte
  10. Fernando Alonso 77 punte

Vervaardigerspunteleer:

  1. Mercedes 587,5 punte
  2. Red Bull 559,5 punte

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

11 Kommentare

Elmarie ·

Max is soos ‘n stout kind wat nie sy sin kry nie. Hoop Hamilton wen die reeks

Alta Alleman ·

Hamilton kan nìe die kompetisie hanteer nie….regtig n swak verloorder.

Frans ·

Gebrek aan kommunikasie deur Mercedes is nie Max se skuld nie.’n Baie vinnige en gevaarlike baan met talle blinde draaie.Danksy die motors se robuste konstruksie was daar geen noodlottige ongelukke nie.Die lang peilvlak het Mercedes beter as Red Bull gepas en alhoewel Red Bull beter in die draaie was ,het die hul tol op Verstappen se agterbande geëis en kon hul nie die pas volhou nie,
Mercedes se plan was dus die beste vir die baan wat mi te gevaarlik vir ‘n F1 renbaan is,

Duck ·

Altwee is parmantig, maar ja, Ek is nou nie ‘n Hamilton of Max fan nie, maar ek weet Max gaan foute maak met die laaste byeenkoms en so gaan Mr. Hamilton weer ‘n titel kry.
Hy kan nie onder druk jaag nie, vele kere al gesien hoe hy foute maak, waar Hamilton weer redelik onder druk kan verkeer en wen. Pity, maar nou ja…

Frans ·

Wat my die meeste van F! pla is dat as daar ‘n ongeluk was en daar of ‘n veiligheidmotor op die baan verskyn die voorste jaers hul voorsprong verloor want al die motors kom soos ‘n gewone wegspring weer bymekaar.Dit beter wees dat die motors by die kuipe intrek en die voorste jaer aanbeweeg tot waar daar by die renbaan aangesluit word en die motors die kuipe verlaat met die sekondes agterstand wat hul agter die voorste motor was. Sou behou die jaers die voorsprong wat hul met harde werk opgebou het.
Geen instandhouding onder sulke omstandighede gedoen word.Word dit wel gedoen moet die gewone kuipe periode by hul agterstand gevoeg word.

piet ·

Want hy het soos gewoonilk ‘n onwettige manoevre uitgevoer en is daardeur gestraf.

Elmarie ·

Nie mal oor een van die twee, maar sal lekker wees as iemand die titel by die Hammer afvat. Jeddah was glad nie lekker om te kyk nie, jaers kan ampers nie verby mekaar gaan want die pad is te smal… Ag nee wat on opwindend vir my nie. Terloops ek is ‘n ander Elmarie as eerste kommentator

piet ·

Verstappen gaan Hamilton van die baan af stamp in die laaste resies want hy weet hy gaan die kampioenskap wen as dit gebeur. Al hoe hy Hamilton kan klop.

Aai ·

Ek is ‘n groot Max fan maar dit is wat dit is daai Mercedes is maar net te vinnig Max sal mooi moet beplan wanneer hulle wat doen om strategies te wen.Dit gaan groot wees vir Max hoop alles loop goed vir hom.Sterkte

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.