Fast5: Jong Proteas kry swaar teen wêreld se bestes

Fast5 Netball-reeks (Foto: Fast5 Netball World Series, Facebook)

Fast5 Netball-reeks (Foto: Fast5 Netball World Series, Facebook)

Suid-Afrika het ʼn teleurstellende sesde in die Fast5 Netbal-wêreldtoernooi in Melbourne geëindig waar Nieu-Seeland Australië in die eindstryd geklop het om in die volgepakte arena as die kampioen gekroon te word.

Die Proteas het teen Jamaika vir die vyfde plek uitgespeel nadat hulle in hulle laaste twee groepwedstryde Sondag teen Malawi en Australië verloor het.

Hierdie uitspeelwedstryd het gelykop geëindig (32-elk) en moes in ekstra tyd beslis word.

Die eerste doel ná een minuut se spel in ekstra tyd is die wendoel. Suid-Afrika het minstens drie kanse gehad om dáárdie doel te kry maar die bal wou net nie deur die net nie.

Malawi het dit uitgebuit en aan die ander kant van die baan die wendoel geskiet, 33-32. Die Proteas eindig dus sesde (en laaste) in die toernooi.

♦  Vir die Suid-Afrikaners was die amperse wen ʼn teleurstelling, maar die afrigter Elsje Jordaan het gesê die jong Protea-spelers baie geleer. Die ondervinding wat hulle teen die wêreld se voorste spanne opgedoen het, is waardevol vir die toekoms.

Die span se twee doele is albei net twintig jaar oud, en sewe van die tien spelers in die groep het in die toernooi die eerste keer op senior internasionale vlak gespeel. Die helfte van die groep is jonger as 21 jaar.

♦  Suid-Afrika het Saterdag teen Engeland gelykop gespeel en moes Sondag teen Malawi en/of Australië wen om ʼn uitspeelkans om derde en vierde plek te hê.

Die eerste twee kwarte teen Malawi het redelik gelykop verloop maar Malawi het 24 doelpuntepunte in sy kragspel in die derde kwart bygevoeg. Suid-Afrika se kragspel in die vierde kwart het net tien punte opgelewer en die Proteas het 21-36 verloor.

Australië het reeds in die eerste kwart onder die Proteas uitgeseil (10-3) en in die derde kwart hulle voorsprong verder vergroot deur agt punte teenoor die Proteas se enkele doel aan te teken. Die Proteas se kragspel het hulle nie veel gebaat nie – hulle kon net vier doelpunte teenoor Australië se vyf doele aanteken.

Saterdag

Die Proteas het hulle eerste wedstryd Saterdag naelskraap teen Jamaika met drie doelpunte, 35-32, verloor. Dit was ʼn groot teleurstelling, want Jamaika was een van die spanne teen wie hulle ʼn goeie wenkans gehad het.

Die tweede wedstryd teen die FastFerns van Nieu-Seeland het aanvanklik  goed begin. Na die eerste kwart was die spanne gelykop, 5-elk.  Maar na die tweede kwart was die Nieu-Seelanders 16-8 voor nadat hulle ʼn greep op die wedstryd verkry het.

Die Nieu-Seelanders het toe in die derde kwart hulle kragspel goed benut. Maria Tutaia, die hulpdoel en kaptein, het met drie superdoele wat elk ses doelpunte werd was hulle voorsprong na 42-10 laat vergroot.

Suid-Afrika kon met hulle kragspel in die vierde kwart net 10 punte byvoeg en het 48-20 verloor.

Die derde wedstryd op die eerste dag teen Engeland het heel dramaties gelykop geëindig. Met net sekondes oor het Charmaine Baard die bal buite die doelsirkel gekry en geskiet, en die driepunt-superdoel het aan die Proteas ʼn gelykopuitslag na ʼn taai wedstryd besorg.

Die een punt wat die Proteas met die gelykoptelling verdien het, sou hulle enigste punt wees.

Finale plekke –
1 Nieu-Seeland, 2 Australië,  3 Malawi, 4 Engeland, 5 Jamaika 6 Suid-Afrika

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

Emile ·

Slegs die foto met onderskrif verklap die artikel handel oor netbal. Die vae verwysing na Proteas en doele kon net sowel ‘n hokkietoernooi beskryf het. Aanvanklik het ek geraai dis krieket. Sonder die foto was meeste lesers waarskynlik in die duister oor watter spel hier ter sprake was.

Sune van Heerden ·

Dagsê Emile

Ons vra om verskoning indien die nie in die berig duidelik was dat ons na Netbal verwys nie.
Ons het die berig gewysig sodat dit verwys na die Fast 5 Netbal-wêreldtoernooi.

Groetnis
Suné
nms Maroela Media

Connie ·

Ons kon gewen het as julle daai doel van die Pukke daar gehad het. Sy mis nie. Daai doelle het maar kaas gedoel.

Retha ·

Netbal Suid-Afrika prober diepte kry omdat daar so baie jong spelers is wat aan die deur klop …. en al die doele het hulle af dae en of druk is soms te erg … maar dis alles deel van die leerskool ….. Fast5 se afrigter se self dit was baie jong span … almal begin erens en lesse word geleer … dis maklik om te se sit die ander doele in … hulle maak ook foute en vou ook onder druk … en dit gaan nie altyd oor die doelskiet nie .. dit gaan ook oor hoe balle deurgebring word en vir doele gegee word …

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.