Federer groet Wimbledon nog nie finaal

Roger Federer gister op Wimbledon. Foto: Adrian Dennis.

Terwyl ’n rits vorige wenners op Wimbledon se hoofbaan byeenkom vir dié ikoniese baan se 100ste verjaardag, was alle oë op Roger Federer gerig.

Die Switserse tennislegende het reeds agt keer die silwerware op Wimbledon omhoog gehou en hy was die laaste kampioen om sy verskyning op die baan te maak.

Martina Navratilova, wat nege keer met die louere weggestap het, kon egter nie die verrigtinge bywoon nie nadat sy positief vir Covid-19 getoets het.

Die oomblik toe Federer sy verskyning op die baan maak, is hy staande toegejuig.

“Ek hoop om vir oulaas weer terug te kom. Ek mis dit,” het die wenner van 20 Grand Slam-titels gesê.

Sy laaste professionele wedstryd was juis op Wimbledon – op 7 Julie verlede jaar in ’n kwarteindstryd-nederlaag teen Pole se Hubert Hurkacz.

Sedertdien hou ’n kniebesering die 40-jarige Federer (hy word in Augustus 41 jaar oud) langs die baan. En die tenniswêreld het aanbeweeg.

Rafael Nadal het sy 22ste Grand Slam-titel met sy Franse Ope-triomf gevier, terwyl jong sterre soos Daniil Medvedev en Carlos Alcaraz ook al meer na vore tree.

“Ek het geweet toe ek verlede jaar hier van die baan stap dat ’n moeilike tyd op my wag. Ek het wel nie gedink dat dit so lank sal neem om my terugkeer te maak nie; die knie sorg vir moeilikheid.”

Federer het sy eerste Wimbledon-titel in 2003 gewen toe hy in skoon stelle met Mark Philippoussis afgereken het.

“Ek is bevoorreg om te kan sê dat ek al baie wedstryde op hierdie einste baan gespeel het. Eintlik voel dit vreemd om in ’n ander hoedanigheid as ’n speler hier te staan, maar dit is ’n voorreg om saam met al die ander kampioene hier te wees. Hierdie baan het al vir groot oorwinnings en nederlae gesorg.”

Die voormalige wêreldnommereenspeler het verlede maand in ’n onderhoud met ’n Switserse radiostasie gesê dat hy nou op sy fisieke toestand konsentreer en gereeld die gimnasium besoek.

“Ek het in Augustus 2021 nog ’n operasie ondergaan en mense vra gereeld vir my hoe lyk dit, wanneer kom ek terug? Elke keer is my antwoord presies dieselfde: Dit gaan nog ’n bietjie langer neem.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.

1 Kommentaar

jongste oudste gewildste
Karinb

‘n Man en sportman van formaat