Federer in eindstryd; Williams-susters weer teen mekaar

Roger Federer Foto: sportskeeda.com

Roger Federer Foto: sportskeeda.com

Roger Federer het Stan Wawrinka Donderdag in vyf stelle in die halfeindstryd geklop om te kwalifiseer vir sy sesde Australiese Ope-eindstryd, en Venus Williams  sal haar suster Serena as teenstander hê wanneer dié Saterdag probeer om haar 23ste Grand Slam in te palm.

Federer het Wawrinka 7-5, 6-3, 1-6, 4-6, 6-3 geklop; Venus Williams het die taai stryd teen CoCo Vanderweghe 6-7, 6-2, 6-3 beklink; en Serena Williams was te goed vir Mirjana Lucic-Baroni, 6-2, 6-1.

♦  Federer, op soek na sy 18de Grand Slam-titel, het die eerste twee stelle teen Wawrinka met redelike gemak gewen, maar in die derde stel het Wawrinka  se reuse-terugvegpoging die wind heeltemal uit Federer se seile geneem en hy het die stel 1-6 verloor.

Federer kon ook nie veel weerstand in die vierde stel bied nie – en skielik was daar ʼn vyfde en beslissende stel.

Federer het in die sesde pot op Wawrinka se afslaan deurgebreek en die voorsprong behou.

Hy kan nou voorberei vir sy aanslag op sy 18de Grand Slam-titel wat op Sondag gespeel word.

Federer se teenstander sal òf Rafael Nadal òf Grigor Dimitrov wees wat Vrydag eers hulle halfeind speel.

♦  Venus Williams het haar hande vol gehad met ʼn vasberade en aanvallende CoCo Vanderweghe. Sy het Williams se eerste afslaanpot na vier breekpunte gewen maar direk daarna haar eie afslaan verloor.

Die eerste stel was toe  ʼn stryd van die agterbaan af totdat Vanderweghe die valbylpot 7-3 gewen het.

Maar Venus se kalm temperament het in die tweede stel die oorhand gekry terwyl Vanderweghe uiting aan haar frustrasie met haar afslaan gegee het deur ʼn bal tussen in die skare in te slaan. Venus het die tweede stel 6-2 en die derde 6-3 gewen.

Vanderweghe het beslis haar merk by die toernooi gemaak, maar die 36-jarige Venus Williams, wenner van sewe Grand Slam-titels en sewe keer naaswenner, is na meer as sewe jaar weer in ʼn Grand Slam-eindstryd.  Sy is 13de vir die toernooi gekeur.

♦  Serena Williams het 34-jarige Mirjana Lucic-Baroni se sprokiestoernooi in skoon stelle 6-2 en 6-1 beëindig.  Lucic-Baroni, moontlik nog tam na haar wedstryd Woensdag teen Katerina Pliskova en met ʼn beseerde linkerbeen, kon nie die mas opkom teen die meesterskap van Serena Williams nie.

Die twee Williams-susters sal Saterdag teen mekaar in die eindstryd speel.  Hulle was 14 jaar gelede ook die finaliste in die Australiese Ope.

Serena is die gunsteling om te wen. Sy loop 16-11 voor in wedstryde tussen die susters en het ses van die agt Grand Slam titels gewen waar sy teen Venus in die eindstryd te staan gekom het.

Serena is ook op soek na haar 23ste Slam-titel met die oog op Margaret Court se rekord van 24 titels.

Dit gaan ʼn verbete stryd wees.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.