Federer kyk na Wimbledon; besin oor Franse Ope

Roger Federer. Foto: Martin Bureau/AFP.

Dit was amper 01:00 Sondagoggend toe die 39-jarige Roger Federer vir Duitsland se Dominik Koepfer met 7-6, 6-7, 7-6 en 7-5 op Roland-Garros geklop het.

Die Switserse tennislegende moet nou in die volgende ronde van die Franse Ope teen Italië se Matteo Berrettini te staan kom. Of gaan hy?

Almal weet dat Federer ná sy knieoperasies eintlik net stoom vir sy geliefde Wimbledon-toernooi wil opbou en nadat hy gisteraand effens teen Koepfer gesukkel het, is daar ’n moontlikheid dat hy hom aan die Parys-toernooi kan onttrek.

“Ek moet besluit of ek sal aanhou speel of nie. Word daar onnodige stremming op my knieë geplaas? Is dit nou ’n goeie tyd om ’n blaaskans te neem?” het Federer gevra.

Die wenner van 20 Grand Slam-titels het juis ná sy vorige kragmeting teen Marin Cilic (’n wedstryd wat hy met 6-2, 2-6, 7-6 en 6-2 gewen het) gewonder hoe sy lyf al die stremming sal hanteer.

“Ek het hierdie wedstryd teen Marin nodig gehad. Ek begin met baie meer selfvertroue op die baan beweeg. Dit sal nou interessant wees om te sien hoe my lyf ná so ’n wedstryd sal reageer.”

Maar ná ’n stryd van amper vier uur teen Koepfer is dit ongetwyfeld tyd om dinge weer in oënskou te neem.

“Elke oggend wanneer ek wakker word, moet ek die situasie herevalueer en probeer vasstel hoe my knie reageer.

“Ek is egter trots op die intensiteit waarteen ek gespeel het. Dit wys dat ek op die regte koers is.”

Tog was iemand soos Andy Murray beïndruk met Federer se spel.

“Dit is inspirerend om te sien hoe Roger Federer homself op 39-jarige ouderdom voor ’n leë stadion om 00:45 aanvuur,” het die Britse ster op Twitter geskryf.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Hendrik Marthinus ·

Hoekom het die ou man Dan begin speel wetende hy Sal nie die toernooi Kan voltooi nie
Of dalk het hy gedink iemand sou hom dalk al geklop het
Beboet hom!!!
Hy moes al 5 jaar terug saam Serena uitgetree het
Was die beste tennisspeler ooit, maar Sal hom nou onthou as iemand wat Bly verloor in semi finaal
Vader tyd Bly roep maar hy Wil hom nie hoor nie

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.