Federer maak gereed vir nóg ’n operasie

Roger Federer groet die toeskouers ná hy op Wimbledon uitgeskakel is. Foto: Glyn Kirk/AFP.

’n Paar dae ná sy 40ste verjaardag het Roger Federer aangedui dat hy nóg ’n knieoperasie moet ondergaan.

“Ek sal vir weke met die hulp van krukke moet rondbeweeg, terwyl ek vir maande nie ’n tenniswedstryd sal kan speel nie,” het Federer in ’n plasing op sosiale media gesê.

Die Switserse tennislegende het verlede jaar ’n paar knieoperasies ondergaan en sedertdien was hy nog net by ’n paar toernooie in aksie.

Meer onlangs het hy in die kwarteindstryd van sy geliefde Wimbledon-toernooi teen Pole se Hubert Hurkacz vasgeval. Die eindtelling was 6-3, 7-6 en 6-0 in die Pool se guns en dit is veral die telling van daardie laaste stel wat ’n mens net weer opnuut laat besef dat die horlosie vir niemand stilstaan nie – selfs nie as jou naam Roger Federer is nie.

Dan was hy ook nie deel van die Olimpiese aksie in Tokio nie en die jongste terugslag beteken dat hy ook nie in die Amerikaanse Ope in New York sal afslaan nie.

Iemand soos Richard Gasquet meen dat Federer onvervangbaar is. Foto: Twitter.

“Dit is ’n moeilike tyd wat voorlê, maar terselfdertyd weet ek dat dit die regte ding is om te doen want ek wil fiks en gesond wees. Dan wil ek ook vir myself ’n tikkie hoop gee om weer ’n terugkeer tot die sport te maak.”

“Ek is egter ’n realistiese persoon en ek weet hoe moeilik dit is om op my ouderdom van só ’n operasie terug te kom. Maar ek sal die rehabilitasieproses met die oog op ’n spesifieke doel aanpak en hopelik dra dit my deur die moeilike tyd.”

Tog is die Switserse meester nog so gewild soos altyd.

Die Fransman Richard Gasquet het onlangs gesê dat Federer die beste speler nóg is en dat hy “ongelooflike grasieuse” tennis speel.

“In my oë is iemand soos Roger Federer onvervangbaar, veral wat die estetiese waarde van sy spel betref. Dit is die hoofrede waarom ek tennis kyk,” het Gasquet gesê.

Federer is staande op Wimbledon toegejuig toe hy ná die Hurkacz-wedstryd van die baan gestap het. Toe het almal bespiegel of dit sy laaste wedstryd op Wimbledon was. Nou wonder ondersteuners of dit nie dalk die laaste mededingende tweestryd van sy loopbaan was nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Louis ·

Ek is n groot Federer “fan”, maar hy is nou al 40. Tyd om te gaan, hy het baie geld en daar is niks om meer te bewys nie. In my opinie die beste van alle tye ongeag of ander hom verby vat met “Major” titels.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.