Federer mik na Australiese Ope

Roger Federer. (Foto: AP/Halden Krog)

Gedurende die afgelope twee Grand Slam-toernooie het alles rondom Rafael Nadal, Dominic Thiem en Novak Djokovic gedraai. Maar hou moed; die meesterlike Roger Federer is op pad terug!

Die 39-jarige Switserse tennisster, wat net soos Nadal 20 Grand Slam-titels agter sy naam het, het vroeër vanjaar ’n knie-operasie ondergaan.

“’n Paar weke gelede het ek ietwat van ’n terugslag in my rehabilitasieproses beleef. Nou – net soos wat ek in die aanloop tot die 2017-seisoen gedoen het – wil ek voldoende herstel om my bes te lewer op die hoogste vlak,” het Federer vroeër op Twitter geskryf.

En dit lyk asof dit goed op die herstelpad gaan.

“Ek wil geen druk op myself plaas nie, maar dinge word beter,” het hy vandeesweek vir Schweizer Illustrierte gesê.

“Ek sal net my naam in ’n toernooihoed gooi wanneer ek 100% herstel het. Tans lyk dit asof ek my terugkeer by die Australiese Ope in Januarie kan maak.

“Ek werk hard aan my krag en stamina en kan sonder enige ongemak vir ’n uur of wat op die baan oefen. Ek voorsien dat ek geen verdere operasies binnekort sal ondergaan nie.”

Federer moes van langs die kantlyn toekyk hoe Nadal sy 13de titel op Roland Garros teen Djokovic gewen het.

“Rafa is ongetwyfeld my grootste teenstander en ek glo ons het mekaar deur die jare gedruk om beter spelers te word,” het die Switserse ster gesê.

En tennisliefhebbers kan nie wag dat die Federer/Nadal-tweestryd voortgesit word nie.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae