Federer nie meer onder tien bestes

Roger Federer. Foto: Ben Solomon/AFP.

Volgens die jongste ATP-ranglys is Roger Federer die 11de beste manstennisspeler ter wêreld. Dit is die eerste keer in amper vyf jaar dat die Switserse legende nie onder die voorste tien spelers tel nie.

En nadat die 40-jarige Federer onlangs nóg ’n knie-operasie ondergaan het, glo Todd Woodbridge dat hy sal sukkel om weer sy stempel in ’n groot toernooi af te druk.

“Dit is onwaarskynlik dat Roger weer ’n groot titel sal wen. As hy een sou wen, is sy enigste realistiese kans op Wimbledon,” het die voormalige Australiese speler gesê.

Federer is vroeër vanjaar in die kwarteindronde van die gewilde Britse toernooi deur Pole se Hubert Hurkacz uitgeskakel.

“Ek moet ongetwyfeld harder in wedstryde werk. Ek het baie idees op die baan, maar ek kan nie altyd meer doen wat ek wil nie,” het Federer ná daardie wedstryd gesê.

Volgens Woodbridge is die kanse ook skraal dat wenner van 20 Grand Slam-titels by volgende jaar se Australiese Ope in aksie sal wees.

“Hy gaan nie die Franse Ope wen nie en hy word 41 jaar oud in 2022. Ek dink hy gaan ’n hele paar goeie wedstryde speel, maar ek twyfel sterk of hy sewe agtereenvolgende wedstryde sal wen om met nóg ’n Grand Slam weg te stap. Ek dink nie dit sal gebeur nie.”

Federer het vroeër aangedui dat hy moontlik Rafael Nadal se dubbelspelmaat vir volgende jaar se Laver-beker kan wees.

“Dit sal ongelooflik wees om die ou Fedal [soos Federer en Nadal bekend staan] weer in Londen te sien,” het Federer geskryf.

Vir baie tennisliefhebbers sal dit net so lekker wees om vir Roger Federer net weer in aksie op die tennisbaan te sien.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Chantel ·

Iewers kom mens waar jy nie meer top is in jou sport nie, almal word ouer en maak plek vir die jonger sportman en vroue.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.