Federer onttrek aan nóg twee toernooie

Roger Federer. (AP Photo/Lee Jin-man)

’n Kniebesering sal Roger Federer ook uit toernooie in Toronto en Cincinnati hou. Die Switserse tennislegende, wat oor twee dae sy 40ste verjaardag vier, het verlede jaar ’n paar knieoperasies ondergaan en sedertdien was hy nog net by ’n paar toernooie in aksie.

Meer onlangs het hy in die kwarteindstryd van sy geliefde Wimbledon-toernooi teen Pole se Hubert Hurkacz vasgeval. Die eindtelling was 6-3, 7-6 en 6-0 in die Pool se guns en dit is veral die telling van daardie laaste stel wat ’n mens net weer opnuut laat besef dat die horlosie vir niemand stilstaan nie – selfs nie eens as jou naam Roger Federer is nie.

’n Kort rukkie ná sy Wimbledon-terugslag het hy ook aangekondig dat hy nie sal probeer om ’n Olimpiese medalje in Tokio te wen nie. Die knieë wil maar net nie saamspeel nie.

“Ek is ongelooflik teleurgesteld; dit is ’n eer en voorreg om Switserland by die Spele te verteenwoordig. Ek het reeds met my rehabilitasieproses begin en hoop om gou weer te speel,” het Federer destyds op sosiale media gedeel.

Die jongste terugslag beteken dat die moontlikheid ook bestaan dat hy nie by die Amerikaanse Ope in New York sal afslaan nie.

Dié toernooi, wat Federer reeds vyf keer in sy loopbaan (2004, 2005, 2006, 2007 en 2008) gewen het, begin op 30 Augustus.

Tog is die Switserse meester nog so gewild soos altyd.

Die Fransman Richard Gasquet het onlangs gesê dat Federer die beste speler ooit is en dat hy “ongelooflike grasieuse” tennis speel.

“In my oë is iemand soos Roger Federer onvervangbaar; veral wat die estetiese waarde van sy spel betref. Dit is die hoofrede waarom ek tennis kyk,” het Gasquet gesê.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Karinb ·

My groot held! ‘n Ware sportman en rolmodel vir jonger spelers. Wat hy reeds vermag het, kan nooit van hom weggeneem word nie.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.