Federer ook uit Olimpiese Spele

Roger Federer. (Foto: Ben STANSALL/AFP)

Jo Black vra in een van sy treffers wat hoop is. Daar is waarskynlik talle diep antwoorde op sy vraag, maar in die sportwêreld beteken hoop die opgewonde verwagting om jou gunstelingspeler vir oulaas by so veel as moontlik groot toernooie te sien speel.

Die vuur van hoop wat in tennisondersteuners gebrand het om vir Roger Federer by die Olimpiese Spele te sien speel, is gister uitgedoof toe die 39-jarige speler aangekondig het dat hy hom aan die skouspel onttrek.

Volgens die Switserse tennislegende sukkel hy weer met sy knieë ná die grasbaantoernooie en hy gaan nie by die Olimpiese Spele in aksie wees nie.

“Ek is ongelooflik teleurgesteld; dit is ’n eer en voorreg om vir Switserland by die Spele te verteenwoordig. Ek het reeds met my rehabilitasieproses begin en hoop om gou weer te speel,” het Federer op sosiale media gedeel.

Federer, wat deur Pole se Hubert Hurkacz in die kwarteindronde van Wimbledon uitgeskakel is, het al vantevore gesê dat hy graag in Tokio sal wil speel.

“Ek het in my hart besluit dat ek graag weer aan die Olimpiese Spele wil deelneem. Indien my fiksheid saamspeel, is ek sonder enige twyfel in Tokio. Ek dink nou al vir ’n hele paar weke oor my deelname en om eerlik te wees; ek probeer meer om my skedule as enigiets anders in orde te kry,” het hy in 2019 gesê.

Foto: Martin Bureau/AFP.

Tog staan die horlosie vir niemand stil nie en John McEnroe meen selfs dat Federer nie weer ’n groot toernooi sal wen nie.

“Ek dink nie Roger sal ooit weer ’n Grand Slam-titel wen nie en dat hy sy loopbaan met 20 titels sal afsluit,” het die voormalige Amerikaanse speler gesê.

Volgens Federer kan hy nie meer dinge as vanselfsprekend op ’n tennisbaan aanvaar nie; hy is nie meer die speler van tien jaar gelede nie.

“Ek moet ongetwyfeld harder in wedstryde werk. Ek het baie idees op die baan, maar ek kan nie altyd meer doen wat ek wil nie.”

Van uittrede is daar egter (vir nou) nog geen sprake nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Jack Russ1 ·

Te veel beserings en hy is nie meer mededingend nie. Tree eerder nou af as na ‘n string vernederende nederlae

Danie ·

Of…..laat hy maar eerder self die besluit maak waneer om af te tree.

Jack Russ1 ·

Hy kan op sy eie besluit. Maar ek dink die beste is om op te hou terwyl die mense nog hoop om hom te sien speel eerder as hy nog speel en die mense hoop hy hou op.

Schumacher is ‘n goeie voorbeeld, beste F1 drywer nog, tree uit en toe begin hy weer ry. Hy het toe vreeslik gesukkel en meeste het gewonder hoekom hy weer begin het

Hendrik Marthinus ·

Die man maak van tennis n grap
Hy was goed nee hy was briljant, maar die ou sit met n probleem hy kan net nie aanvaar hy is klaar nie.
Hy verloor so Baie lately, dat men’s Kan nie Anders as om dit te vergeet nie.
Men’s Kan Dan nie eens Meer Sy gloriedae onthou nie.
Nee Roger loop weg en speel die senior toernooi man, daar gaan jy weer wen.
O Genade pasop as Rafa ook uit tree gaan jy nie eens Meer senior toernooie wen nie
So hou liewer heeltemal op.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.