Federer se spaarvarkie is spekvet

Die goue Roger Federer-muntstuk. Foto: Twitter.

Reg, daar is reeds vantevore bevestig dat Roger Federer die rykste sportman ter wêreld is. Met sy $106 miljoen (amper R2 miljard) het hy die sokkerster Lionel Messi as die hoogsbetaalde sportpersoonlikheid onttroon.

Forbes het ook onlangs sy lys van die rykste bekendes bekend gestel. Die lys word deur vermaaklikheidsterre soos Kyle Jenner ($590 miljoen) en Kanye West ($170 miljoen) oorheers, maar Federer is derde op die lys.

Hy het oor ’n tydperk van een jaar meer as die akteurs Dwayne Johnson, Vin Diesel en Ryan Reynolds en selfs die heavy metal-musiekgroep Metallica verdien.

Ander sportmanne onder die top-10 is sokkersterre soos Cristiano Ronaldo, Messi en Neymar, terwyl die basketbalspeler Lebron James negende op die lys is.

Roger Federer. Foto: Twitter.

Hoewel die Switserse tennislegende laas gedurende die Australiese Ope by ’n internasionale toernooi te siene was, sorg borgskappe dat sy spaarvarkie vol bly.

Boonop het Swissmint verlede week gesê dat hy 10 000 goue Federer-muntstukke gaan munt. Hy het verder aangedui dat hy nog 40 000 silwer muntstukke van die tennisheld gaan uitgee.

Die rykste bekendes volgens Forbes:

  1. Kyle Jenner: $590 miljoen
  2. Kanye West: $170 miljoen
  3. Roger Federer: $106,3 miljoen
  4. Cristiano Ronaldo: $105 miljoen
  5. Lionel Messi: $104 miljoen
  6. Tyler Perry: $97 miljoen
  7. Neymar: $95,5 miljoen
  8. Howard Stern: $90 miljoen
  9. Lebron James: $88,2 miljoen
  10. Dwayne Johnson: $87,5 miljoen

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.