Federer stuur boodskap vóór Kaapse draai

Roger Federer. (AP Photo/Lee Jin-man)

“Die pad hierheen was ’n wonderlike ervaring vir my. Julle ondersteun my en ek kan julle nie genoeg bedank nie.”

Só sê Roger Federer op Match in Africa se amptelike Twitter-rekening. Die 38-jarige tennis-superster van Switserland speel op 7 Februarie in ’n liefdadigheidswedstryd teen Rafael Nadal in Kaapstad.

Buiten die groot Federer/Nadal-tweestryd, sal die duo ook in dubbelspel-aksie saam met Bill Gates en Trevor Noah wees.

“Hallo, Roger Federer, ek hoor jy en Bill Gates wil vir my en Rafael Nadal aanvat? Ons aanvaar die uitdaging, maar wees gewaarsku, die toeskouers gaan aan ons kant wees,” het Noah op sosiale media gesê.

Trevor Noah (Foto: GCIS)

Kaartjies vir die skouspel is binne sekondes uitverkoop en hoewel van die bemarkingsmateriaal per ongeluk vir Novak Djokovic in plaas van Rafael Nadal vertoon, kan Suid-Afrikaners nie wag vir die een-keer-in-’n-leeftyd-geleentheid nie.

Organiseerders het ondersteuners gemaan om hul kaartjies vooraf by Computicket of Shoprite en Checkers af te haal, aangesien daar geen kaartjiepunte by die baan sal wees nie.

Die wedstryd het egter gesorg dat die Fittest in Cape Town-CrossFit-kompetisie uitgestel is.

“Dit is met ’n swaar hart dat ons moet aankondig dat die Fittest in Cape Town 2020 weens ’n botsing met die Roger Federer/Rafael Nadal-liefdadigheidswedstryd uitgestel is. Die tenniswedstryd word op 7 Februarie op die Kaapstad-sokkerstadion gespeel en die Stad van Kaapstad het ons venuebespreking op die Groenpunt-atletiekstadion gekanselleer,” het organiseerders in ’n amptelike verklaring op hul webblad geskryf.

Ondanks verskeie vergaderings, onder andere met die Wes-Kaapse premier, is daar geen oplossing gevind nie.

Rafael Nadal. (AP Photo/Dita Alangkara)

Maar terug na die tennis – Federer het gister soos ’n wafferse Houdini van ouds met ’n ontsnappingspoging vorendag gekom.

Hy het Tennys Sandgren in die kwarteindstryd van die Australiese Ope geklop, selfs met sewe wedstrydpunte teen hom.

“’n Tikkie geluk kan maar gerus soms aan jou kant wees. Ek het net gehoop dat Tennys nie die wenhou slaan nie; as hy een of twee wedstrydpunte mis, wie weet wat kan gebeur. Ek dink ek was vandag baie gelukkig gewees,” het Federer ná die wedstryd gesê.

Vandag speel Nadal teen Dominic Thiem in die ander kwarteindstryd. Ten tye van publikasie het die Spanjaard met 5-4 in die eerste stel voorgeloop.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.