Federer wéér ondersteuners se gunsteling

Roger Federer is steeds baie gewild. Foto: Twitter.

Hy mag dalk 40 jaar oud wees en met sy knieë sukkel, maar Roger Federer is nog so gewild soos altyd.

Die Switserse tennislegende is pas vir die 19de keer in sy roemryke loopbaan as tennisliefhebbers se gunstelingspeler tydens die ATP-toekennings aangewys.

Federer het vroeër vanjaar tot die kwarteindstryd van sy geliefde Wimbledon-toernooi gevorder, maar hoewel hy binne drie stelle teen Pole se Hubert Hurkacz verloor het, is hy steeds staande toegejuig toe hy van die baan gestap het.

“Die staande toejuiging was fantasties – ek is mal daaroor. Dit is die rede waarom ek tennis speel,” het Federer destyds gesê.

Lloyd Harris, Suid-Afrika se eie tennisster, het in 2019 teen Federer op Wimbledon gespeel. Hoewel hy die kragmeting met 3-6, 6-1, 6-2 en 6-2 verloor het, het Harris gesê dat die wedstryd baie lank in sy geheuebank sal bly.

“Wimbledon is ’n ongelooflike toernooi. Ek het goeie herinneringe van my wedstryd teen Roger Federer op die hoofbaan; dit is was ’n uitsonderlike ervaring,” het die Suid-Afrikaner gesê.

Dan het Richard Gasquet vir Federer met Lionel Messi (Argentynse sokkerspeler) vergelyk.

“Dit gaan nie vir my oor ’n spul Grand Slam-titels nie – in my oë het Roger geen gelyke nie. Hy is die Messi van tennis,” het die Fransman gesê.

Dit is ook nie die eerste keer wat Gasquet die heuningkwas uithaal om Federer te beskryf nie.

“In my oë is hy onvervangbaar; veral wat die estetiese waarde van sy spel betref. Dit is die hoofrede waarom ek tennis kyk.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

anniekiewiet ·

Dit is waarom beroemdes net die beste integriteit as voorbeeld vir jongmense moet stel. En waarom ek ook graag tennis kyk.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.