Federer wen ná afwesigheid van 405 dae

Roger Federer. Foto: Twitter.

Kyk, as die tenniswêreld met ’n skool vergelyk kon word, sou Roger Federer se registeronderwyser baie bekommerd oor sy afwesigheid gewees het.

Want die wêreldwye Covid-19-pandemie en ’n paar kniebeserings het gesorg dat die 39-jarige Switserse tennisster vir 405 dae op die kantlyn was.

Om op die bogenoemde vergelyking effens uit te brei: Hy sou beslis nie ’n merietesertifikaat vir getroue skoolbesoek ontvang het nie!

Maar Federer is ’n speler met amperse bomenslike vaardighede en hy het sy terugkeer met ’n sege van 7-6, 3-6 en 7-5 teen Brittanje se Daniel Evans in die Katar-ope gevier.

O ja, Evans is die Britte se voorste speler.

“Dit is baie lekker om terug te wees. Selfs al sou ek verloor het, sou ek steeds dankbaar gewees het om net weer hier te staan; maar om te wen is natuurlik baie beter!” het Federer geskerts.

Evans was die afgelope ruk Federer se oefenvennoot en hy het self ook glad nie sleg gespeel nie.

“Dan het goeie tennis gespeel en dit was van groot waarde om saam met hom te oefen. Ons het oor die afgelope twee weke seker 20 stelle teen mekaar gespeel en dit het net na die wedstrydsituasie oorgeloop.”

Oudergewoonte het hy die wedstryd met ’n rughandhou beklink.

“Dan se energievlakke was ’n bietjie hoër teen die einde van die laaste stel gewees, maar ek was baie tevrede met my afslane en het eintlik goeie tennis gespeel.”

Federer sal hierna teen Nikoloz Basilashvili te staan kom.

Intussen het Suid-Afrika se Lloyd Harris teen Marton Fucsovics vasgeval. Die eindtelling was 4-6, 7-6 en 6-2 in die Hongaar se guns.

Harris het vroeër vir ’n opskudding gesorg toe hy met Stan Wawrinka afgereken het.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.