Federer wen ná hy sewe wedstrydpunte afweer

Roger Federer vier sy oorwinning vandag. (AP Photo/Lee Jin-man)

Kyk, Roger Federer speel al kompeterende tennis vandat hy ’n tiener is, maar hy het vandag vir een van die beste terugvegpogings van sy loopbaan gesorg.

Federer het Tennys Sandgren van die VSA in die kwarteindstryd van die Australiese Ope in Melbourne geklop.

Die eindtelling was 6-3, 2-6, 2-6, 7-6 en 6-3 in Federer se guns. In die proses het hy met ’n verstommende sewe wedstrydpunte teen hom klaargespeel.

“’n Tikkie geluk kan maar gerus soms aan jou kant wees. Ek het maar net gehoop dat Tennys nie die wenhou slaan nie; as hy een of twee wedstrydpunte mis, wie weet wat kan gebeur. Ek dink ek was vandag baie gelukkig gewees,” het Federer ná die wedstryd gesê.

Die drukkoker was beslis hoog en Federer is oor sy taalgebruik deur een van die lynskeidsregters aangespreek.

Volgens die wedstrydbeampte het Federer ’n kragwoord of twee in Duits gesê.

“Soos wat die wedstryd gevorder het, het ek beter begin voel. Om eerlik te wees, ek het net probeer om tennis te speel. Ek glo in wonderwerke, dalk kon dit begin reën het,” het hy laggend vertel.

“Ek het maar net gewag dat hy met my klaarspeel, en hy het nie. Ek is steeds staande en ek is baie gelukkig daaroor.”

Novak Djokovic. (AP Photo/Lee Jin-man)

Nou wag ’n watertand-halfeindstrydontmoeting met Novak Djokovic.

Op sy beurt het Djokovic maklik met Milos Raonic afgereken. Die 32-jarige Serwiër het die kragmeting met 6-4, 6-3 en 7-6 gewen.

Federer het sy laaste drie wedstryde teen die Serwiër in Melbourne verloor.

“Novak is ’n kampioen, veral hier in Australië. Ek sal beslis my sokkies moet optrek as ek hom wil aanvat.”

In die ander manskwarteindstryde sal Rafael Nadal en Dominic Thiem kragte meet, terwyl Alexander Zverev vir Stan Wawrinka sal aanvat.

Australië se Asheigh Barty het Petra Kvitova met 7-6 en 6-2 oorrompel om vir die halfeindstryd te kwalifiseer.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Johan Venter ·

Federer het maar soos die hond se agterend gespeel. In sy vorige wedstryd het hy 82 ongedwonge foute gemaak en nog steeds gewen. As die beskermengel dan nou so op sy skouer hierdie laase twee wedstryde gesit het, hoop ek nie hy versaak daai engel in sy volgende twee wedstryde nie. Als kan mos nou nie verniet gewees het nie?

TwaalfBoor ·

@Jahan Venter
As hy soos sy agterent gespeel het, en nogsteeds gewen het, hoe pateties was sy teenstaanders dan?

Johan Venter ·

Standgren is nr 100 in die wêreld, hy het baie goed gespeel, maar mens kon duidelik sien Federer het ook sommer met sy beweging gesukkel, dit het later gelyk of sy Nike skoene, sy raket en sy kopband hom irriteer. Die 5 stelle moes soos ‘n straf vir hom gevoel het. Hy het selfs in die onderhou na die tyd aan Jim Courier gesê hy wat Federer is hoort nie daar te staan.

Dankbaar ·

Federer is uniek in die sport. Hy het erken dat hy nie verdien het om te wen nie. Maar sy jare lange uithouvermoë en ondervinding het hom gehelp. Hy is n taktiese speler. Jy kan hoor as hy na wedstryde praat hoe hy redeneer op die baan. Hy is een van my jare lange Hero’s. En op sy ouderdom is hy fiks en soepel om by te hou met die jonges.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.