Federer wens sy vriend Rafa geluk

Die koning van klei in Frankryk! Foto: Twitter.

“Ek het nog altyd respek vir Rafael Nadal gehad – as vriend en as kampioen-tennisspeler.” Só begin Roger Federer se boodskap op sosiale media nadat die Spanjaard sy 13de titel op Roland Garros gewen het.

Die 34-jarige Nadal het in die proses ook sy 20ste Grand Slam-titel verower toe hy Novak Djokovic met 6-0, 6-2 en 7-5 in Parys ore aangesit het.

“Hy is ongetwyfeld my grootste teenstander en ek glo ons het mekaar deur die jare gedruk om beter spelers te word,” het Federer voortgegaan.

Die 38-jarige Switserse tennisster het ook 20 Grand Slam-titels agter sy naam en is saam met Nadal en Djokovic (17 titels) in ’n titaniese stryd gewikkel om as die beste speler in die sport se geskiedenis bekend te staan.

“Dit is vir my ’n reusevoorreg om Rafa met sy 20ste Grand Slam geluk te wens. Wat sy prestasie veral ongelooflik maak, is dat hy nou al 13 keer op Roland Garros gewen het – een van die beste prestasies in sport.”

Op sy beurt was Nadal dankbaar vir Federer se vriendskap en ondersteuning.

“Ons het baie respek vir mekaar en op die een of ander geheime manier is ons werklik bly as een van ons op die baan presteer,” het Nadal gesê.

“Ons positiewe verhouding beteken baie vir my omdat ons al so lank ‘aartsvyande’ op die baan is.”

Die twee het vroeër vanjaar met hul Match in Africa-inisiatief die bywoningsrekord vir ’n tenniswedstryd verbeter. Amper 52 000 Suid-Afrikaners het die kragmeting in Kaapstad bygewoon, terwyl Federer meer as R45 miljoen vir liefdadigheid ingesamel het.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Moedeloos ·

Albei my 2 tennis hero’s. Maar skreeu nogsteeds vir Nadal as hulle teen mekaar speel ☺ Albei baie nederig en respekvol. My grootste wens nog om hul te kan sien speel in n toernooi.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.