Federer wil nog tennis speel

Roger Federer. (Foto: Ben STANSALL/AFP)

Wimbledon begin amptelik Maandag en as daar een speler is wie se heldedade sinoniem met sukses op dié ikoniese grasbaan is, dan moet dit Roger Federer wees.

Die Switserse tennislegende het reeds agt keer met die louere weggestap en sy laaste professionele wedstryd was juis op Wimbledon – op 7 Julie 2021 in ’n kwarteindstryd-nederlaag teen Pole se Hubert Hurkacz.

Sedertdien hou ’n kniebesering die 40-jarige Federer (hy word in Augustus 41 jaar oud) langs die baan. En die tenniswêreld het aanbeweeg.

Rafael Nadal het sy 22ste Grand Slam-titel met sy Franse Ope-triomf gevier, terwyl jong sterre soos Daniil Medvedev en Carlos Alcaraz ook al meer na vore tree. Volgens die jongste ATP-ranglys is Federer 96ste in die wêreld.

“Ek het in Augustus 2021 nog ’n operasie ondergaan en mense vra gereeld vir my hoe lyk dit, wanneer kom ek terug? Elke keer is my antwoord presies dieselfde: Dit gaan nog ’n bietjie langer neem,” het Federer in ’n onderhoud met ’n Switserse radiostasie gesê.

Volgens Federer konsentreer hy nou op sy fisieke toestand en besoek die gimnasium ’n hele paar keer per week.

Hy het al vantevore aangedui dat hy van plan is om saam met Nadal dubbelspelwedstryde in die Laverbeker te speel, terwyl hy ook in Oktober aan ’n Switserse toernooi wil deelneem.

“Daar is hoop en ek het reeds so ’n ver pad gestap, ’n terugkeer is nie só vergesog nie. Die volgende paar maande is van groot belang; ek moet net geduldig bly want daar is vordering.”

Dalk is die tenniswêreld en Roger Federer nog nie gereed om mekaar te groet nie.

 Foto: Ben Solomon/AFP.

Soos wat Richard Gasquet (wat nou ’n paar plekke hoër as Federer op die ranglys is) tereg opgemerk het – hy is ’n speler wat tennis laat goed lyk.

“In my oë is hy onvervangbaar – veral wat die estetiese waarde van sy spel betref. Dit is die hoofrede waarom ek tennis kyk. Dit gaan nie vir my oor ’n spul Grand Slam-titels nie – volgens my het Roger geen gelyke nie. Hy is die Lionel Messi van tennis,” het die Fransman gesê.

Maar Wimbledon sonder Roger Federer is soos die Olimpiese Spele sonder Michael Phelps of Usain Bolt; dit voel net leër.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.