Ferrari bó in Bahrein

Ferrari was eerste en tweede oor die wenstreep in Bahrein. Foto: Twitter.

Die geruite vlag het laas in 2019 eerste vir Charles Leclerc geswaai, maar vandag het dinge alles perfek vir die jong Ferrari-renjaer uitgewerk en hy het eerste oor die wenstreep in Bahrein gejaag. Met Carlos Sainz in die tweede plek kon Ferrari nie vir ’n beter begin tot die seisoen gevra het nie.

“’n Eerste én tweede plek, mamma Mia!” het ’n opgewonde Leclerc oor die spanradio laat hoor.

“Ek is so gelukkig. Ons het vooraf geweet dat ons vanjaar ’n goeie kans staan en die span het ’n ongelooflike kar gebou. Dit is lekker om weer onder die toprenjaers te tel.”

Maar wat is F1 sonder ’n tikkie drama?  Oudergewoonte het die wedren-draaiboek vir hope spanning, intrige en aksie gesorg.

Max Verstappen was op koers na nóg ’n podiumplek (weliswaar ’n paar sekondes agter die vlieënde Leclerc) toe sy kragtige Red Bull-enjin skielik begin krag verloor het.

Die eindstreep was skaars twee rondes weg toe die verdedigende wêreldkampioen noodgedwonge die aftog moes blaas. Boonop het Sergio Perez ook ’n soortgelyke probleem ervaar en hy kon ook nie die wedren voltooi nie.

“Dit was ’n nagmerrie aanloop tot die seisoen vir ons. Dit lyk asof al twee motors dieselfde probleme ondervind het en ons moet nog die presiese oorsaak vasstel,” het ’n teleurgestelde Christian Horner (Red Bull-spanbaas) gesê.

Verstappen was vroeër in die wedren in ’n titaniese stryd met Leclerc om die eerste plek gewikkel en die twee renjaers het gereeld om draaie swaarde gekruis.

“Ferrari was egter vandag vinniger as ons gewees. Selfs al kon ons vir ’n langer tydperk die voortou geneem het, sou Leclerc se spoed net te veel gewees het. Hulle verdien ongetwyfeld die oorwinning.”

In die deurmekaarspul het Lewis Hamilton – wat maar ’n stillerige wedren gehad het – derde geëindig.

Die volgende wedren is op 27 Maart in Saoedi-Arabië.

Uitslae:

  1. Charles Leclerc (Ferrari)
  2. Carlos Sainz (Ferrari)
  3. Lewis Hamilton (Mercedes)
  4. George Russell (Mercedes)
  5. Kevin Magnussen (Haas)
  6. Valtteri Bottas (Alfa Romeo)
  7. Esteban Ocon (Alpine)
  8. Yuki Tsunoda (Alpha Tauri)
  9. Fernando Alonso (Alpine)
  10. Guanyu Zhou (Alfa Romeo)

Vervaardigerskampioenskap:

  1. Ferrari 44 punte
  2. Mercedes 27 punte
  3. Haas 10 punte
  4. Alfa Romeo 9 punte
  5. Alpine 8 punte

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Twallie ·

Is goed om hulle weer te sien wen. Kom ons hoop hulle kan dit volhou.

Jammerte oor Red Bull se tegniese probleme. Hoop hulle kan dit uitsorteer, Al die spanne het werk om te doen met die nuwe 2022 motors, lei ek af na al die klagtes tydens die wedren.

MakersMark ·

Hopelik is meer spanne kompeterend en word die Red Bull vs Mercedes eentonigheid gebreek. Bly vir Ferrari die span bly die mees bekroonde en ikoniese F1 span.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.