Ferrari se neus voor in Melbourne

Ferrari se Charles Leclerc. Foto: Con Chronis/AFP.

’n Vlieënde rooi Ferrari-renmotor sal vir die eerste keer in 15 jaar voor by die Australiese Grand Prix in Melbourne wegspring.

Charles Leclerc se uitstekende aanloop tot die 2022-seisoen duur voort en hy het die Red Bull-aanslag van Max Verstappen en Sergio Perez afgeweer om vir die tweede keer in drie wedrenne die vinnigste kwalifiserende tyd op te stel.

Die laaste keer wat ’n Ferrari heel voor in Australië weggespring het, was met Kimi Raikkonen agter die stuur in 2007.

“Ek voel goed. Ek sukkel  normaalweg in Melbourne maar alles het nou goed uitgewerk en ek is baie tevrede met my vertoning. Die kar reageer goed en enigiets is môre moontlik,” het die jong Ferrari-ster gesê.

Leclerc se heldedade beteken terselfdertyd dat dit die eerste keer in sewe Australiese wedrenne is wat Lewis Hamilton nie voor wegspring nie.

Die Mercedes-renjaer het die vyfde vinnigste tyd opgestel, maar dit is ’n groot verbetering op sy vertoning in Saoedi-Arabië toe hy 16de op die wegspringrooster was.

Intussen het Verstappen gesê dat hy met tye gesukkel het om sy motor doeltreffend te beheer.

“Ek het eintlik nog nie een keer goed agter die stuur gevoel nie en ons sal spook om die probleem op te los. Ja, ek is bly oor die tweede plek, maar as ’n span wil ons beslis verbeter,” het die verdedigende wêreldkampioen gesê.

Dit was egter steeds Red Bull se beste kwalifiserende ronde in Melbourne sedert Daniel Ricciardo se goeie vertoning in 2014.

In ander nuus het Mick Schumacher vir die eerste keer vanjaar vinniger as sy Haas-spanmaat Kevin Magnussen gejaag.

Schumacher spring 15de weg, gevolg deur Magnussen in die 17de plek.

Die wedren begin môre om 07:00 en die aksie sal regstreeks op SuperSport uitgesaai word.

  • Wegspringrooster:
  1. Charles Leclerc (Ferrari)
  2. Max Verstappen (Red Bull)
  3. Sergio Perez (Red Bull)
  4. Lando Norris (McLaren)
  5. Lewis Hamilton (Mercedes)
  6. George Russell (Mercedes)
  7. Daniel Ricciardo (McLaren)
  8. Esteban Ocon (Alpine)
  9. Carlos Sainz (Ferrari)
  10. Fernando Alonso (Alpine)

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.