Ferrari’s spring voor weg in Miami

Argieffoto van die Ferrari’s op die renbaan (22 September 2019) (Foto: AP Photo/Eric To)

Dit was weer Ferrari se dag toe die spoedvrate van Formule Een in Miami vir vandag se Grand Prix moes kwalifiseer. Charles Leclerc is in die voorste wegspringplek en sy spanmaat Carlos Sainz is saam met hom in die voorste ry.

Dit is die eerste keer sedert die Meksikaanse Grand Prix in 2019 dat albei Ferrari’s in die voorste ry wegspring.

Dit is ook die derde keer vanjaar wat Leclerc in die voorste wegspringplek is en die twaalfde van sy loopbaan.

Wêreldkampioen Max Verstappen het ʼn rare foutjie gemaak en hy moet met die derde wegspringplek tevrede wees in sy Red Bull.

Leclerc kon nie uitgepraat raak oor die reuse- Amerikaanse skare wat die kwalifiseringsrondes vir die eerste Miami Grand Prix bygewoon het nie. “Die ondersteuners gaan mal. Dit is ongelooflik om hier in Amerika te wees en om te sien hoe die sport oor die laaste paar jare gegroei het.”

Verstappen se spanmaat, Sergio Perez, spring in die vierde plek weg met Valtteri Bottas (Alfa Romeo) in die vyfde plek en sewemalige wêreldkampioen Lewis Hamilton (Mercedes) in die sesde plek.

Verstappen kon nie veel kla oor sy derde plek nie. Hy het ʼn groot deel van Vrydag se oefenrondes misgeloop. “Ek het letterlik net vier of vyf rondes Vrydag gejaag. Vandag (Saterdag) het ek probeer om die baan te leer ken en om ʼn behoorlike balans te kry met die motor. Dit was eintlik ʼn verrassing om so mededingend in die kwalifisering te wees want dis nie ʼn maklike baan om te leer nie.”

Hamilton was verlig met ʼn wegspringplek in die derde ry nadat nie een van die Mercedes-jaers by die Italiaanse Grand Prix in die top-tien kon kwalifiseer nie. “Dit is baie beter vir my as verlede week. So ek sal dit vat. Die motor is ʼn bietjie beter, maar ons moet aanhou werk daaraan.”

Hamilton se spanmaat George Russel spring in die twaalfde plek weg. Hy het gekla die motor was gister stadiger as tydens die vorige dag se oefenrondes.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.