Fietsrywêreld in rou ná jong ryer se dood

Bjorg Lambrecht het gister tydens die Poolse Fietstoer gesterf. Foto: Lambrecht se amptelike Facebook-blad.

Een van die talentvolste jong fietsryers van die hedendaagse era, die 22-jarige Bjorg Lambrecht van België, het gister in ’n Poolse hospitaal gesterf nadat hy gedurende ’n skof van die Poolse Fietstoer geval het.

Lambrecht het tussen Chorzow en Zabrze geval en ’n betonstruktuur getref. Die voorval het ongeveer 96 km vanaf die eindpunt plaasgevind.

Een van die toer se organiseerders, Ryszard Wisniewski, het aan die media gesê dat Lambrecht se afsterwe ’n skok vir die hele fietsrywêreld is.

“Ons weet glad nie waarom hy geval het nie omdat die strook pad waarop hy gery het taamlik plat is. Ons het sy hart op die toneel gemasseer, noodhulp toegepas en die hulp van ’n helikopter ingeroep om hom na die hospitaal te vervoer.

“Sy toestand was egter so sleg dat die helikopter hom nie kon vervoer nie en ’n ambulans het hom toe weggeneem,” het Wisniewski gesê.

Lambrecht het kort daarna tydens ’n operasie gesterf.

Hy was een van die talentvolste ryers. Foto: Facebook.

Volgens berigte het die spanryer van Lotto-Soudal teen ’n hoë snelheid teen ’n afdraande gejaag. Dit was ’n reguit en breë pad, maar nat van ’n onlangse reënbui. Lambrecht het ’n oomblik geaarsel en dít het hom waarskynlik sy lewe gekos. Hy het van die pad geblits en teen die betonstruktuur gebots.

Lambrecht is Juniemaand as die mees belowende jong ryer by die Critérium du Dauphiné aangewys – ’n wedren wat basies die voorloper van die Tour de France is.

“Daar is nie woorde om dié tragedie te beskryf nie. Ons gebede is saam met sy familie, vriende, spanmaats en die hele fietsrygemeenskap,” het die Poolse Fietstoer in ’n verklaring gesê.

“Dit is die grootste tragedie denkbaar. Rus in vrede, Bjorg,” het ’n woordvoerder van Lotto-Soudal gesê.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.