Fikse SA’ner hou Aussies nou op hul tone

Lerentia Strydom. Foto: Verskaf.

Lerentia Strydom se fiksheidpaadjie het al ’n interessante roete gevolg.

In Middelburg was sy aan die stuur van haar eie oefeningklub, terwyl sy by verskillende wedlope haar stempel afgedruk het.  Sy het onder meer die Forever Resorts-halfmarathon gewen en op die podium van die Twee Oseane se velddraf-afdeling gestaan.

’n Paar jaar gelede het Lerentia saam met haar gesin na Australië verhuis waar sy met StrydomFitness besig is om die Aussies met hul fikswordplanne by te staan.

Hoewel sy dit verkies om haar lede van aangesig tot aangesig te ontmoet, het die wêreldwye Covid-19-pandemie gesorg dat haar besigheid nou grotendeels ’n aanlyn baadjie dra.

“Ek mis ongetwyfeld die kontak met mense, maar terselfdertyd geniet ek dit dat enigiemand nou kan saam oefen; maak nie saak waar hulle hulself bevind nie,” het sy vir Maroela Media gesê.

Sy het juis vroeër vandeesmaand ’n gratis fiksword-uitdaging van twee weke van stapel gestuur wat baie goed ondersteun word.

Foto: Verskaf.

Tussendeur haar besige program – haar twee seuns ontvang boonop nog tuisonderrig – het sy ook weer begin om meer mededingend aan wedlope deel te neem. Daar is maandeliks ’n velddraf-wedloop van 25 km waar sy in aksie is, terwyl sy in November by die Staatkampioenskap sal aantree.

In Australië is die gimnasiums, fiksheidsateljees en -klasse oop en fiksheidsentoesiaste kan enige tyd oefen.

“Ons moet egter ook ’n afstand van 1,5 meter handhaaf, terwyl lede met ’n QR-kode moet inteken sodat hulle maklik opgespoor kan word indien daar positiewe gevalle is.”

In ’n vorige onderhoud – vóór Covid-19 – het sy gesê dat die fiksheidsinfrastruktuur in Australië effens anders lyk as waaraan Suid-Afrikaners gewoond is.

“Elke gebied het ’n hele straat waar almal hul inkopies doen. In die straat is daar ’n gimnasium wat 24 uur oop is, tot vier ateljees met persoonlike afrigters, twee spinning-ateljees en ’n hele paar joga- en pilatessentrums. Die Australiërs is baie pligsgetrou en loop nie sommer ’n oefensessie mis nie, maar die Suid-Afrikaners kan baie harder as hulle oefen. Die Aussies hou nie baie daarvan om uit hul gemaksone te wees nie,” het sy destyds gesê.

Die Strydom-gesin het onlangs van Melbourne na Adelaide verhuis; ’n skuif wat die verlange na Suid-Afrika effens minder maak.

Foto: Verskaf.

“Ons mis egter ons familielede in Suid-Afrika baie. Die onsekerheid oor wanneer ons mekaar weer gaan sien, rus baie swaar op ’n mens se gemoed. Ons hou egter aan met glo dat dinge sal verbeter.”

Maar al help sy ’n hele paar Australiërs om nie meer te hyg wanneer hulle na ’n krieketwedstryd stap nie, vertel sy dat sy nie sommer haar aksent sal verloor nie.

“Ons praat die heeltyd Afrikaans by die huis en daar is baie Suid-Afrikaners in Adelaide met wie ons kan gesels.”

 

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Dirk Mostert ·

Elke stad of dorp in Australie wat ek besoek het het parke met paadjies vir stappers, drawwers en fietsryers, waardeur mense aangemoedig word om in die buitelug te kom. Perth het ‘n hengse trap (“Jacob’s Ladder”) teen die wal van die Swan-rivier, waar entoesiaste op-en-af draf (waarvoor ek nie kans gesien het nie). Die stede het relatief min verkeer en daar word meestal gestap, ‘n gesonde lewenswyse.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.