Fiksheid maak ʼn Kaapse draai

SA se Jason Smith. Foto: Fittest in Cape Town.

Dit is hierdie naweek tyd vir die Fittest in Cape Town-kompetisie en daar is baie op die spel: Die man, vrou en span wat eerste eindig, sal outomaties hul kaartjie na die CrossFit-spele in die VSA bespreek.

As ’n atleet tweede, derde of vierde by die Coetzenburg-sportsentrum eindig, is die fiksheidsdroom ook nie noodwendig verby nie; hulle sal later nog ’n geleentheid kry om vir die Spele te kwalifiseer.

In die mansafdeling sal die 37-jarige Jason Smith poog om vir die vierde keer sy pad na die Spele oop te kap. Hoewel hy agtste onder die Afrika-deelnemers in die wêreldwye Ope-kompetisie geëindig het, het hy sy staal (én ervaring) by die onlangse kwarteindronde ten toon gestel.

Dina Swift was by die 2019-Spele in aksie. Foto: Verskaf.

Die CrossFit-veteraan het die aanslag van jonger deelnemers – onder wie Kealan Henry en Richard Wollboldt – afgeweer en is waarskynlik die gunsteling om in Stellenbosch met die louere weg te draf.

In die vroue-afdeling tel Michelle Merand en Michelle Basnett weer onder die gunstelinge, maar ’n mens moet ook nie Dina Swift se aanslag onderskat nie.

Swift het Suid-Afrika saam met Smith by die 2019-Spele verteenwoordig en sy sal graag weer ’n kans wil hê om haar fiksheid op die groot verhoog uit te stal.

“In CrossFit kan jy basies op ’n daaglikse basis verbeter en dit daag jou elke keer uit. Jy dink die een dag jy is goed met iets, net om die volgende dag te besef dat jy nog baie hard moet werk om die beweging werklik te bemeester. Ek dink dit is die hoofrede waarom ek so baie van die sportsoort hou – dit toets jou fiksheid op alle vlakke. Jy kan nie anders as om veelsydig te wees nie,” het sy in ’n vorige onderhoud met Maroela Media gesê.

Die span van CrossFit Commit Okavango behoort ook sterk te staan. Die Kapenaars was die top-Afrikaspan in die Ope- en die kwarteindrondes, maar die CrossFit Tijger Valley Unit-span is ongetwyfeld gedugte teenstanders.

Mariska Smit. Foto: Verskaf.

Volgens Commit Okavango se Mariska Smit het hul span egter vanjaar ’n spesifieke doel voor oë: Hulle wil nie net vir die Spele in die VSA kwalifiseer nie, hulle wil ook goed doen daar.

Smit was verlede jaar – ook in spanverband – deel van die aksie en sy vertel dat ’n kaartjie na Madison (Wisconsin) een van die grootste hoogtepunte in enige CrossFitter se loopbaan is.

“As ’n opkomende atleet het ek altyd opgekyk na almal wat daar deelneem. Ek het egter nooit in my wildste drome gedink ek sal ook eendag met hulle skouers skuur nie. Die kompetisie in Madison is doodeenvoudig net op ’n ander vlak en ’n mens se oë gaan beslis oop,” het sy gesê.

CrossFit-liefhebbers kan vanaf Vrydag die Kaapse aksie hier volg.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.