Flames en Jaguars sorg vir netbal-hoogtepunt

Die hoogtepunt van die naweek se derde ronde van die Netbal-premierliga waar hoë tellings nie ongewoon was nie, was Vrydag se  taai stryd tussen Noordwes se Flames en die Jaguars van Noord-Gauteng.

Verlede jaar het die twee spanne teen mekaar gelykop gespeel, en Vrydag was dit vanuit die staanspoor ʼn verbete stryd wat uiteindelik met 49-45 deur die Flames gewen is.

Ná die eerste kwart was die Jaguars 14-10 voor. Met rustyd was die Jaguars steeds ʼn kortkoppie met 23-20 voor. Hulle het die voorsprong vir sewe minute in die derde kwart behou toe die vasberade Flames die telling tot 29 elk gevoer het.

Renske Stoltz en haar span het daarna die oorhand begin kry en aan die einde van die derde kwart was die Flames een doel voor, 35-34.

Met tien minute van die wedstryd oor was die Flames steeds met net  ʼn enkele doel, met 39-38, voor, maar hulle het aan daardie voorsprong geklou. Die Flames se doelskieters het toe met uitmuntende spel hulle voorsprong geleidelik vergroot en ná ʼn spannende 60 minute het hulle met 49-45 gewen.

Die speler van die wedstryd in hierdie uitstekende kragmeting was die Jaguars se senter, Marlize de Bruin.

♦  Die Gautengse Golden Fireballs het die Limpopo Baobabs van die begin af oorheers en na die eerste kwart was die Fireballs reeds met 21-8 voor. Met rustyd ná die tweede kwart was die Fireballs met 39-16 voor en het uiteindelik met 74-31 gewen.

Die wenspan se senter, Nadia Uys Pienaar, is as die speler van die wedstryd aangewys.

♦  Saterdag was die Flames weer op die wenpad en het hulle die Mpumalanga Sunbirds maklik met 61-17 uit die pad gevee nadat hulle rustyd met 46-12 voor was. Die Sunbirds soek nog na hulle eerste oorwinning.

♦  Die Jaguars het ook ʼn maklike tweede wedstryd gehad en het die Limpopo Baobabs met 53-27 geklop.

♦  Die ander twee wedstryde Saterdag is ook aan groot oorwinnings gekenmerk. Die Stings van die Wes-Kaap het die Oos-Kaapse Aloes met 66-30 geklop en die Crinums het hulle eerste oorwinning van die reeks behaal deur met die KZN Kingdom Stars af te reken, 52-32.

Rustyd was die Crinums net met 19-13 voor. Die terugkeer van die voormalige Proteaskaptein Maryka Holtzhausen, nadat sy meer as agt maande lank weens ʼn besering nie kon speel nie, het in die tweede helfte aan haar span ʼn duidelike hupstoot gegee.

♦  In Sondag se twee wedstryde het die Crinums die Oos-Kaapse Aloes gedomineer en met 63-36 gewen. Dit was die verdedigende kampioen se tweede oorwinning na vyf wedstryde. Die Diamonds van die Noord-Kaap het nie raad gehad met die Fireballs nie en met 10-90 verloor in ʼn wedstryd waarby nie een van die twee spanne kon baat vind nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.