Fokus op Federer, Sharapova (en die beseerde Murray)

Maria Sharapova – moeilike terugkeer na Grand Slam-tennis (Twitter @MariaSharapova)

Dit is drie gevestigde spelers met ʼn rits Grand Slam-titels agter hulle name wat waarskynlik die meeste aandag geniet voor die Amerikaanse Ope-tennistoernooi wat Maandag by Flushing Meadows in New York begin.

Maria Sharapova maak haar terugkeer tot Grand Slam-tennis nadat sy haar skorsing vir die gebruik van die hartmedisyne meldonium  uitgedien het; Roger Federer jag sy sesde Ope-titel en derde Grand Slam van die jaar; en Andy Murray het hom Saterdag weens sy beseerde heup aan die toernooi onttrek.

♦  Sharapova, wat nie te vriendelik deur vele van haar eweknieë in groot tennis terug verwelkom is nie, spring Dinsdagoggend 01:00 SA tyd met ʼn besonder moeilike uitdaging weg.

Sy kom in die eerste ronde te staan teen Simone Halep, wat tweede vir die toernooi gekeur en ook tweede op die wêreldranglys is.

Halep het in die afgelope twee Grand Slams die kans gehad om na wêreld nommer een te vorder maar in die Franse ope se eindstryd en by Wimbledon in die kwarteind verloor.

Halep is heel filosofies daaroor maar weet dat dit nie maklik sal gaan nie – en haar onvermoë om ʼn grote te wen, kan sielkundig teen haar tel. Halep het tot dusver al vyf wedstryde wat sy teen Sharapova gespeel het, verloor.

Sharapova, wat reeds vyf Grand Slam-titels gewen het, is in 2016 by die Australiese Ope positief getoets vir die hartmedisyne wat oor die toonbank gekoop kan word en in Januarie 2016 onwettig verklaar is.

Sy was onbewus van hierdie nuwe reëling en het die medisyne aanhou gebruik.

Sy het haar terugkeer in April in die Stuttgart Ope gemaak waar sy, soos vir die Amerikaanse Ope, as promotorskeuse ʼn uitnodiging gekry het om deel te neem.

♦  Federer, wat vanjaar teen die verwagting in op 35-jarige ouderdom die Australiese Ope en ook sy agste Wimbledon-titel gewen het, het in 2008 sy vyfde opeenvolgende Amerikaanse Ope-titel gewen.

Hy is tans die wêreld se nommer drie-speler.

Hy sal, as alles vir hulle albei goed verloop, in die halfeind teen die nommer een ter wêreld, Rafael Nadal te staan kom om nege jaar na sy vorige titel in 2008 weer die Ope te probeer wen.

♦  Murray, die wêreld se tweede beste, het Saterdag onttrek. Ander sterk aanspraakmakers, speel ook nie in vanjaar se Amerikaanse Ope nie.

Die verdedigende kampioen Stan Wawrinka (knie-operasie); Novak Djokovic (regter elmboog), wat in 2016 in die eindwedstryd teen Wawrinka verloor het; Kei Nishikori (beseerde gewrig) wat in 2014 in die eindstryd verloor het; en Milos Raonic (gewrig) wat verlede jaar  in die Wimbledonse eindstryd verloor het, neem nie vanjaar deel nie.

Federer het self las van ʼn rugbesering maar meen dit sal hom nie pla nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.