Forbes-eerbewys vir goue Tatjana

Tatjana Schoenmaker, Suid-Afrika se goue swemmer. (Foto: Tania Heyns)

Tatjana Schoenmaker het die sporttoekenning by die Forbes-beraad vir Afrika se invloedrykste vroue ontvang.

Die geleentheid vier die uitsonderlike prestasies van vroueleiers wie se toewyding en onbaatsugtigheid toekomstige generasies kan inspireer.

Die talentvolle Pretorianer het verlede jaar amok by die Olimpiese Spele in Japan gemaak toe sy ’n goue en ʼn silwer medalje in die swembad ingeoes het.

“As land gaan Suid-Afrika tans deur ’n moeilike tyd en ek hoop my vertoning sal vir Suid-Afrikaners wys dat niks onmoontlik is nie,” het Schoenmaker ná haar silwermedalje-vertoning in die 100 m-borsslagitem gesê.

Daar was inderdaad bitter min dinge waarmee sy in Tokio gesukkel het en skaars ’n paar dae later het sy die goue medalje in die 200 m-borsslagitem verower. Sy het terselfdertyd sommer ook die wêreldrekord in dié item laat spat!

Schoenmaker is ongetwyfeld ’n sportvrou wat nie vir ’n uitdaging terugstaan nie, wat weet hoe om druk te hanteer en hoe om ander te inspireer.

Selfs toe die Spele weens die wêreldwye Covid-19-pandemie met ’n jaar uitgestel is, was sy nie van stryk gebring nie.

“Vir 15 jaar het ek daarvan gedroom om by die Olimpiese Spele in aksie te wees en 2020 sou uiteindelik die jaar gewees het. Maar aan die ander kant, gaan ’n jaar werklik só ’n groot verskil maak? Dit gee vir my eintlik meer tyd om aan my vaardighede te skaaf, terwyl my ondersteuningspan fantasties is; om ’n jaar langer te wag is eintlik voordelig,” het sy destyds gesê.

Suid-Afrika se goue swemmeisie verdien beslis elke liewe toekenning en medalje wat in haar vertoonkas uitgestal word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.