Dit is weer daardie tyd van die jaar wanneer die formule een-spanne op Monaco toesak vir die mees bekende formule een-wedren van die seisoen.
Verlede jaar het Fernando Alonso, ’n voormalige wêreldkampioen, die Formule Een Grand Prix in Monaco misgeloop omdat hy toe aan die Indianapolis 500 deelgeneem het. Vanjaar is Alonso (McLaren) egter terug en hy gaan probeer om vir ’n sesde agtereenvolgende keer punte in te samel.
Vanjaar se Monaco Grand Prix is die sesde wedren op die 2018-kalender. Die wedren skep baie opwinding en die adrenalien loop ver bo die normale perk. Dit is baie moeilik om mekaar verby te steek weens die nou baan en skerp draaie van dié straatren. Daarom is ’n goeie posisie op die wegspringrooster van kardinale belang.
Die vorige wedren (vyfde) was in Spanje afgehandel. Die wedren op die Catalunya-baan in Barcelona is gemaklik deur Lewis Hamilton (Mercedes) gewen met sy spanmaat Valtteri Bottas (Mercedes) tweede en Max Verstappen (Red Bull) derde. Sebastian Vettel (Ferrari) kon net vierde oor die eindstreep jaag.
Die voorloper op die punteleer is Lewis Hamilton wat 17 punte meer is as Sebastian Vettel wat tweede is. Vettel sal hard moet spook om nie kontak met Hamilton te verloor nie veral gegewe sy minder goeie vertonings in die laaste twee wedrenne.
Pos | Renjaer | Span | Punte |
1 | Lewis Hamilton | Mercedes GP | 95 |
2 | Sebastian Vettel | Ferrari | 78 |
3 | Valtteri Bottas | Mercedes GP | 58 |
4 | Kimi Raikkonen | Ferrari | 48 |
5 | Daniel Ricciardo | Red Bull | 47 |
Die eerste oefenrondes word Vrydag afgehandel terwyl die kwalifisering vir die wegspringrooster Saterdag plaasvind. Die wedren word Sondag net na 15:00 gejaag.
Monaco is meer ‘n “seremoniele” wedren as enige iets anders, maar wat dit lekker maak is dat die motors meer teen mekaar kan meeding, want top spoed speel nie so ‘n groot rol nie. Die voorste wegspring plek, met betroubaarheid, verseker amper ‘n wen. Dit by maar lekker om die karre om daai baan (of sal en sê, in daai strate?) te sien jaag. O ja, ‘n voor vereiste vir die wedren is hope talent en ys wat deur jou are vloei, en daar is baie daarvan in F1 tans!!