Formule E kan gerus weer ʼn Kaapse draai maak

Foto: Grégroy Lenormand/DPPI via AFP.

Saterdagoggend toe ek my oë oopmaak, skrik ek my boeglam: Het ek die buffetontbyt by my Kaapstadse hotel misgeloop?

Terwyl ek spook en spartel om die elektriese rolgordyn ʼn skrefie hoër te lig, sien ek uit die hoek van my oog die helder syfers van my selfoon se horlosie raak – 04:15.

“Dankie tog,” slaak ek ʼn hoorbare sug van verligting. Daardie muesli en gemengde vrugte is ʼn treffer, terwyl die cappuccino’s soos die olie in die weduwee se kruik is: Bottomless!

Die ontbyt en uitsig by die hotel. Foto: Maroela Media. 

Maar die groot rede vir my eie oggendstond-het-goud-in-die-mond-ervaring is nie soseer die ontbyt-heilstaat wat op die 26ste verdieping vir my wag óf die storie wat ek wil klaarskryf óf die vooruitsig van ’n leë hotelgimnasium nie. Aikôna, die Formule E-renjaers is in Kaapstad en hulle gaan vandag in Tafelberg se skadu jaag.

Danksy Nissan se goedhartigheid het die uwe ʼn toegang- en etekaartjie vir die ekovriendelike motorsportavontuur in Groenpunt bekom en stiptelik om 08:30 staan ek gereed in die hotel se voorportaal.

Natuurlik is ek gewapen met my skootrekenaar, notaboek en sonbrandroom – my vrou sorg darem altyd vir my.

Ná ʼn kort maar moeilike rit – ek moes in my beste Engels bontstaan om die vrae van ʼn paar Egiptiese Nissan-staatmakers te beantwoord (“No, I dount tienk dêr are pothôls”), kom ons by ons eindbestemming aan.

Vriendelike wedrenpersoneel begelei ons na ʼn onthaalarea waar ʼn spul mense, uitgevat en belangrik, opgewonde staan en gesels.

Daar is ’n renmotor wat bó my linkerskouer verbyflits. Foto: Maroela Media. 

Skielik hoor ek ʼn vreemde geluid. Dit klink soos die geluid wat ʼn opgeruimde dinosourus in Jurassic Park sou maak, of ’n Scalextric-stel op opkikkers.

Jip, dit is die renjaers wat litte losmaak vir die groot wedren net na 16:00. En hoewel dit glad nie soos die brullende F1-enjins klink nie, jaag die deelnemers steeds teen meer as 300 km/h in die Kaapse strate rond.

Tommaso Volpe het juis tydens die vorige aand se media-ete gesê dat die renjaers eintlik die bedagsame muskietklanke van hul ekovriendelike motors waardeer. Volgens die Nissan-motorsportbaas kan hulle nou hul ondersteuners se aanmoediging ook hoor en nie net die gedreun van hul kragtige enjins nie.

Daar word agter die skerms gewoel en gewerskaf. Foto: Maroela Media.  

ʼn Toer van kuipe was volgende op die agenda en daar is wragtie nie ʼn boutjie, moertjie of skroewedraaier wat iewers rondlê nie. Die motorwerktuigkundiges is baie vriendelik, maar bewaar jou siel as jy durf waag om ʼn foto van die agterkant van die renmotor te neem – dit is glo waar al die spangeheime opgesluit is.

Kort voor lank is dit tyd vir die amptelike wedren om te begin en ná ʼn rits aksiebelaaide rondes het Antonio Felix da Costa met ʼn paar indrukwekkende maneuvers met die louere weggejaag.

Antonio Felix da Costa spring van vreugde in die Kaap. Foto: Rodger Bosch/AFP.

ʼn Rukkie later klap die vonkelwynproppe en die renjaers het saam met die toeskouers feesgevier.

Ja, dit is inderdaad makliker om die aksie op jou rusbank voor die televisie te volg, maar daar is min dinge so opwindend as om eerstehands die spoed, skreeuende bande en adrenalien langs die baan te ervaar.

Formule E kan gerus weer ʼn Kaapse draai maak.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Corne123 ·

ag asb tog kaapstad kaapstad kaapstad moet altyd die middelpunt van als wil wees pateties verby hou dit weer maar sorg self vir als en die skuld daarna hoor

piet ·

Jaloesie is ‘n lelike ding. Kaapstad maak miljoene uit die wedren.

Nico ·

Nee wat, hierdie Scalextic karretjies was nou glad nie só indrukwekkend nie. Ek het die wedren op TV gevolg, en alhoewel daar redelike goeie oomblikke was, was dit nou nie REGTIG motorsport nie. Daardie stofsuier klankies is ook nie werklik instaat om mens entoesiasties te maak nie! Hou maar verby!

Schalk ·

Nee die artikel skrywer moet eerder gedigte skryf. Die kragopwekkers wat die wedren moes aan die gang hou met Eskom wat son panele probeer bemark. Gaan na ‘n regte wedren toe. Knortjorre klink beter as die stofsuiers.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.