Formule Een: Drie wedrenne in ʼn ry

Lewis Hamilton (Mercedes) van Brittanje vier sy oorwinning op die podium na afloop van die Formule Een Grand Prix van Azerbaidjan in Bakoe (29 April 2018). Foto: AP Photo/Luca Bruno

Die Oostenrykse Formule Een Grand Prix (die negende wedren van die seisoen) word Sondag 1 Julie afgehandel. Dit is die tweede van drie wedrenne op drie agtereenvolgende Sondae om ʼn oorvleueling met die eindstryd van die Wêreldbeker-sokkertoernooi op 15 Julie te verhoed.

Die afgelope naweek het Lewis Hamilton (Mercedes) die Franse Grand Prix gewen. Hy het daarmee gewys dat hy weer die renjaer is waarmee almal rekening sal moet hou. Max Verstappen (Red Bull) was tweede en Kimi Räikkönen (Ferrari) derde. Daniel Ricciardo (Red Bull) het vierde oor die eindstreep gejaag met Sebastian Vettel (Ferrari) vyfde.

Ter versagting van Vettel (Ferrari) moet daar genoem word dat hy sewentiende moes wegspring ná daardie ongeluk in eerste ronde in Frankryk. Vettel het sy paadjie deur die veld oopgery om uiteindelik vyfde te eindig.

Die baan in Oostenryk staan bekend as die “Red Bull Ring” en is in Spielberg geleë. Daar is sitplek vir 40 000 toeskouers en die baan is in 1969 gebou. Die baan is 4,318 km lank en die renjaers sal 71 rondes aflê.

Mercedes se opgradering van hul enjins het bewys dat hulle nou meer krag het en moeilik ingehaal gaan word. Op die punteleer vir die vervaardigers is die span van Mercedes in die eerste plek (237) met Ferrari tweede (214) en Red Bull derde (164). Renault is vierde (62) en McLaren vyfde (40).

Lewis Hamilton (Mercedes) is die voorloper op die renjaers se punteleer en spog met 145 punte. Sebastian Vettel (Ferrari) is tweede met 131. Daniel Ricciardo (Red Bull) is derde met 96 en Valtteri Bottas (Mercedes) beklee die vierde plek met 92 punte. Kimi Räikkönen (Ferrari) is vyfde met 83 punte.

Die oefenrondes begin Vrydag 29 Junie met die kwalifisering wat Saterdag afgehandel word. Die wedren begin Sondag om 15:10

Klik hier vir meer inligting.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.