Formule Een: Ferrari gryp die inisiatief

Sebastian Vettel (Foto: www.sebastianvettel)

Die Britse Formule Een Grand Prix (die tiende wedren van die seisoen) is Sondag op Silverstone gejaag en daar was drama soos min. Dit was die derde wedren in drie weke en Sebastian Vettel (Ferrari) het eerste geëindig met Lewis Hamilton (Mercedes) tweede en Kimi Raikkonen (Ferrari) derde.

Lewis Hamilton (Mercedes) het met ʼn uitstekende ronde tydens die kwalifisering die eerste posisie op die wegspringrooster verseker. Hamilton was net 44 duisendstes van ʼn sekonde vinniger as sy groot teenstander, Sebastian Vettel (Ferrari). Dit was Hamilton se sesde keer dat hy eerste op die wegspringrooster was by die Britse Formule Een Grand Prix.

Wegspringrooster

  1. Lewis Hamilton – Mercedes
  2. Sebastian Vettel – Ferrari
  3. Kimi Räikkönen – Ferrari
  4. Valtteri Bottas – Mercedes
  5. Max Verstappen – Red Bull

Die wedren is oor 52 rondes beslis en 340 000 toeskouers het die wedren bygewoon.

Met die wegtrek het Hamilton teruggesak na die derde plek en in die tweede draai het hy kontak gemaak met Kimi Raikkonen. Hamilton het van die baan getol en na die 18de posisie teruggesak. Raikkonen moes as straf vir 10 sekondes langer in die kuipe bly toe hy gaan bande ruil het.

Sebastian Vettel (Ferrari) het voor gejaag met Vallterie Bottas (Mercedes) tweede en Max Verstappen (Red Bull) derde. Hamilton het uitstekend deur die veld gevleg en met talle posisies verbeter om weer in die punte te wees.

Nadat die motors bande geruil het, is die veiligheidsmotor twee keer ontplooi nadat van die agterste motors in ongelukke betrokke was. Vallterie Bottas (Mercedes) het die voortou geneem met Vettel tweede en Hamilton derde.

Tydens ronde 47 het Vettel weer die voortou geneem toe hy en Hamilton asook Raikkonen by Bottas verby geskuif het. Dit is ook hoe die renjaers geëindig het. Vettel eerste, Hamilton tweede, Raikkonen derde en Bottas vierde.

Op die punteleer is Sebastian Vettel (Ferrari) steeds die voorloper met 171 punte. Lewis Hamilton (Mercedes) is tweede met 163 punte. Kimi Raikkonen (Ferrari) beklee die derde plek met 116 en Daniel Ricciardo (Red Bull) is in die vierde plek met 106 punte.

Die volgende wedren word op 22 Julie gejaag wanneer die Duitse Formule Een Grand Prix aangebied word.

Kliek hier vir meer info: https://www.formula1.com/

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Paul ·

Dankie Pieter, kyk aub weer net na die skakel vir die inligting wat ons kan gaan beloer.

Pieter ·

En nou is MB se druiwe suur en beskuldig hulle Ferrari van onderduimse taktiek ens. LH is die grootste cry-baby wat ek nog ooit ervaar het. Uiterste swak sportman!!!

bantam ·

Waar is Martin Brundell se gekerm nou dat hulle Hamilton verby Bottas laat gaan vir die punte , maar as die ander spanne dit doen dan is dit sleg vir die sport

Gerhard ·

Ongelukkig oorheers die Britte nog al die jare F1 bestuur en media. Renjaers en spanne wat met Britse renjaers en spanne meeding loop nog altyd deur.

Vraagteken ·

Bantam, is jy seker dat Bottas vir Hamilton laat verbygaan het? ‘N mens kon duidelik sien dat Bottas sy lyn verdedig het. Ek glo nie dat Mercedes dit gereël het nie.

Dit gesê, Pieter jy is reg, Hamilton is by vêre die grootste cry baby ?. Hy is ook nie beste ooit nie. ‘N mens moet nie vergeet dat Button en Rosberg hom al gewen het in dieselfde toerusting nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.