Formule Een: Ferrari is op volle vaart

Kimi Raikkonen. (Foto: Manu Fernandez, AP)

Die Britse Formule Een Grand Prix (die tiende wedren van die seisoen) word Sondag op Silverstone gejaag. Dit sal die derde wedren in drie weke wees. Net een punt skei Sebastian Vettel en Lewis Hamilton op die punteleer.

Verlede week se Oostenrykse Formule Een Grand Prix was deur Red Bull se Max Verstappen gewen. Kimi Räikkönen (Ferrari) het die tweede plek ingeneem en Sebastian Vettel (Ferrari) was derde. Die vorige naweek het Lewis Hamilton (Mercedes) die Franse Grand Prix gewen.

Met Ferrari se tweede en derde plekke verlede week het hulle gewys dat hulle tans op volle vaart is om vanjaar se kampioenskap te wen. Vettel het boonop vir die tweede keer in ʼn ry verder terug weggespring as waarvoor hy gekwalifiseer het. Ferrari se grootste teenstanders, Mercedes, kon nie een van hul motors oor die eindstreep in Oostenryk kry nie. Daar is egter ʼn ligpunt vir Mercedes deurdat hul voorste jaer, Lewis Hamilton, op sy tuisbaan meeding.

Op die punteleer is Sebastian Vettel (Ferrari) die nuwe voorloper met 146 punte. Lewis Hamilton (Mercedes) is tweede met 145 punte. Kimi Räikkönen (Ferrari) is derde met 101 en Daniel Ricciardo (Red Bull) beklee die vierde plek met 96 punte.

Die Silverstone-baan is 5,891 km lank en spog met 18 draaie. Lewis Hamilton hou die baanrekord (1:30.621) wat hy verlede jaar opgestel het. Die baan kan 150 000 toeskouers huisves.

Die kwalifisering om die wegspringrooster te bepaal, vind Saterdag plaas en die wedren se wegtrek is Sondag om 15:05

Klik hier vir meer inligting.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.