Formule Een: Gaan Mick Schumacher die mas opkom?

Mick Schumacher. Foto: Foto: AFP/Ferrari/Handout

Wanneer jou van Schumacher is en jy reeds met die Formule Twee- en Formule Drie-wêreldkampioenskappe agter jou naam spog, is jou pad na glorie in Formule Een-renne na alle waarskynlikheid uitgestippel.

Maar nee, dink maar weer, want vir die 21-jarige Mick Schumacher, seun van die sewemalige F1-wêreldkampioen, Michael, wag daar ʼn pad vol dorings.

Schumacher se toetrede tot aanstaande jaar se Formule Een-reeks gaan soos ʼn vars briesie deur dié sport trek, want daar gaan nie ʼn dag verbygaan wanneer sy naam nie in die kollig sal wees nie.

Maar die probleem is dat daar altyd ʼn verwysing na pa Michael sal wees.

Michael dit en Michael dat … voor en agter. Sal die jong Schumacher dié druk kan weerstaan?

Mick, wat reeds op negejarige ouderdom in knortjorrenne begin jaag het, en gewen het, het al die nodige vaardighede om uit te styg, om sy man te kan staan; maar gaan sy onbesonge Amerikaanse Haas-span die mas kan opkom?

Haas kon vanjaar net drie punte op die kampioenskapspuntelys insamel en het negende geëindig, want Williams, wat tiende was, kon geen punte verower nie.

Dit gaan van die begin af ʼn opdraande stryd wees, veral omdat Mercedes (573 punte), Red Bull (310), McLaren (202), Racing Point (195), Renault (181) en Ferrari (131) vierkantig in Haas se pad sal staan.

Maar dalk tel dit ook in Schumacher se guns, omdat niemand te veel van Haas verwag nie.

* Van die 774 Formule Een-renjaers wat sedert 1950 dié sportsoort beoefen, kon nog net 13 pa-en-seun-kombinasies hul stempels afdruk.

Nog net twee keer vantevore was pa en seun albei wêreldkampioene: Graham en Damon Hill en Keke en Nico Rosberg.

Jacques Villeneuve was wel F1-wêreldkampioen, maar sy pa, Gilles, het tragies verongeluk voordat hy die wêreldkroon kon dra.

Dan trap Max Verstappen tans in pa, Jos, se voetspore. Max vaar baie beter, want hy het reeds tien renne gewen en Jos kon nie een keer op die boonste trappie van die podium staan nie.
Carlos Sainz (jr.) se pa, Carlos, was ook twee keer ʼn wêreldkampioen, maar in tydrenne.

Volgens ESPN is Michael Schumacher jare gelede soos volg aangehaal: “Ek sou dit verkies het om Mick se aandag van die baan af weg te lei gholfbaan toe, want ek het dit met Jacques Villeneuve en Damon Hill gesien, ook met my eie broer Ralf, oor watter las jou naam kan dra.”

* Pa-en-seun-kombinasies in Formule Een-renne:

Jack (wêreldkampioen), Gary, Geoff en David Brabham

Graham (wêreldkampioen) en Damon Hill (wêreldkampioen)

Keke (wêreldkampioen) en Nico Rosberg (wêreldkampioen)

Mario (wêreldkampioen), Michael en Jeff Andretti

Gilles en Jacques Villeneuve (wêreldkampioen)

Nelson (wêreldkampioen) en Nelson (jr.) Piquet

Antonio en Alberto Ascari (wêreldkampioen)

Manfred en Markus Winkelhock

Wilson en Christian Fittipaldi

Satoru en Kazuki Nakajima

Hans en Hans-Joachim Stuck

Jan en Kevin Magnussen

Jos en Max Verstappen

Bronne: F1experiences.com en espn.co.uk

 

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.