Formule Een: Hamilton gryp die inisiatief in Frankryk

Lewis Hamilton. Foto: AP Photo/Andre Penner

Die Franse Formule Een Grand (die agtste wedren van die seisoen) is Sondag op  die Paul Ricard Le Castellet-baan in Frankryk afgehandel. Dit was die eerste van drie wedrenne op drie agtereenvolgende Sondae om ʼn oorvleueling met die eindstryd van Sokker se wêreldbeker op 15 Julie te verhoed.

Die wedren oor 53 rondes is deur Lewis Hamilton (Mercedes) gewen met Max Verstappen (Red Bull) tweede en Kimi Räikkönen (Ferrari) derde. Daniel Ricciardo (Red Bull) het vierde oor die eindstreep gejaag met Sebastian Vettel (Ferrari) vyfde.

Die vorige wedren in Kanada is deur Sebastian Vettel in sy Ferrari gewen.

Mercedes se opgradering van hul enjins het reeds tydens die oefenrondes gewys dat hulle meer krag het. Ferrari het hul opgradering reeds voor die wedren in Kanada gedoen.

Tydens die kwalifiseringsronde het Mercedes die beste gevaar en die voorste twee plekke op die wegspringrooster ingeneem.

  1. Lewis Hamilton Mercedes 1:30.029
  2. Valtterie Bottas Mercedes 1:30.147
  3. Sebastian Vettel Ferrari  1:30.400
  4. Max Verstappen Red Bull 1:30.705
  5. Daniel Ricciardo Red Bull 1:30.895
  6. Kimi Räikkönen Ferrari 1:31.057

Met die wegspring het Hamilton die voortou geneem en binne twee draaie is die veiligheidsmotor ontplooi nadat verskeie motors in ligte ongelukke betrokke was. Bottas en Vettel se motors het ook kontak gemaak en beide moes die kuipe besoek. Sebastian Vettel (Ferrari) vir ʼn voorste drukvlerk en Bottas om ʼn pap band te vervang. Vettel is met vyf sekondes gestraf vir die insident.

Agtien motors het die wedren na vyf rondes hervat met Lewis Hamilton (Mercedes) voor, Max Verstappen (Red Bull) tweede en Carlos Sainz (Renault) derde. Sebastian Vettel was sewentiende met Valtteri Bottas (Mercedes) agtiende in die veld.

By die halfpadmerk (26 rondes) was Hamilton steeds voor, gevolg deur die twee Red Bulls van Max Verstappen en Daniel Ricciardo. Vettel het van die agtiende plek na die vyfde posisie verbeter en Bottas van sewentiende na tiende. Die eerste motors het toe ook die kuipe begin besoek vir nuwe bande.

Lewis Hamilton (Mercedes) het van die begin tot die einde voorgejaag om die wedren te wen.  Max Verstappen (Red Bull) was tweede en Kimi Räikkönen (Ferrari) derde.

Hamilton (Mercedes) is nou weer die voorloper op die punteleer en spog met 145 punte. Sebastian Vettel (Ferrari) is tweede met 131. Daniel Ricciardo (Red Bull) is derde met 96 en Valtteri Bottas (Mercedes) beklee die vierde plek met 92 punte.

Kimi Raikkonen (Ferrari) is nou vyfde met 83 punte.

Die volgende wedren word komende Sondag in Oostenryk gejaag en ʼn week daarna is die aksie in Brittanje.

Kliek hier vir meer info.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.