Formule Een: Hamilton het een hand op trofee

Lewis Hamilton (Mercedes) van Brittanje in aksie tydens die Formule Een Grand Prix in Singapoer. Foto: Vincent Thian/AP

Die Singapoer Formule Een- Grand Prix (die 15de wedren van die seisoen) is Sondagaand op die straatbaan van Marina Bay deur Lewis Hamilton (Mercedes) gewen.

Hamilton het van begin tot einde voorgejaag om vir die vierde keer in Singapoer te seëvier. Tweede in die ren oor 61 rondes en 308 km was Max Verstappen (Red Bull) met Sebastian Vettel (Ferrari) derde. Valtteri Bottas (Mercedes) was vierde, Kimi Räikkönen (Ferrari) vyfde en Daniel Ricciardo (Red Bull) sesde.

Hamilton (Mercedes) het Saterdag tydens die kwalifisering ʼn manjifieke ronde afgelê om eerste op die wegspringrooster te wees. Hamilton se tyd was 1 min. 36.015 sek. (3.4 sek. vinniger as verlede jaar se beste kwalifiseerder).

Verstappen (Red Bull) was tweede vinnigste met Vettel (Ferrari) derde.

Wegspringrooster: 

  1. Lewis Hamilton (GBR/Mercedes) 1 min. 36.015
  2. Max Verstappen (NED/Red Bull) 1 min. 36.334
  3. Sebastian Vettel (DUI/Ferrari) 1 min. 36.628
  4. Valtteri Bottas (FIN/ Mercedes) 1 min. 36.702
  5. Kimi Räikkönen (FIN/Ferrari) 1 min. 36.794
  6. Daniel Ricciardo (AUS/ Red Bull) 1 min. 36.996
  7. Sergio Perez (MEX/Force India-Mercedes) 1 min. 37.985
  8. Romain Grosjean (FRA/ Haas-Ferrari) 1 min. 38.320
  9. Esteban Ocon (FRA/Force India-Mercedes) 1 min. 38.365
  10. Nico Hulkenberg (DUI/ Renault) 1 min. 38.588

Kort ná die wegtrek het Vettel in die tweede plek inbeweeg terwyl Esteban Ocon (Force India-Mercedes) se motor kontak met sy spanmaat (Sergio Perez) se motor gemaak en teen die muur vasgejaag het. Dit het beteken dat die veiligheidsmotor, soos die vorige twee jaar, weer op die baan moes verskyn.

Sebastian Vettel (Ferrari) van Duitsland in aksie tydens die Formule Een Grand Prix in Singapoer. Foto: Yong Teck Lim/AP

Die wedren is in ronde vyf hervat met Hamilton voor, Vettel tweede, Verstappen derde, Bottas vierde en Räikkönen vyfde.

Tydens ronde 14 het ʼn paar druppels reën geval en Vettel het nuwe bande in ronde 15 opgesit. Hy het supersagte bande verkies en gehoop om die wedren daarmee te voltooi. Hamilton het ʼn ronde later gestop en ultrasagte bande verkies en steeds in die eerste plek die wedren hervat.

Verstappen het by Vettel verbygeskuif nadat hy uit die kuipe gekom het en daarmee die tweede plek ingeneem.

Die posisies het baie min verander en ná 41 rondes was Hamilton steeds voor, gevolg deur Verstappen en Vettel. Bottas was steeds vierde met Räikkönen vyfde. Dit was met ander woorde Mercedes eerste, Red Bull tweede met Ferrari derde.

Die wedren is uiteindelik gemaklik deur Hamilton (Mercedes) gewen met Verstappen (Red Bull) tweede en Vettel (Ferrari) derde.

Hamilton is nou met 40 punte voor op die punteleer: 

1 Lewis Hamilton (Mercedes) 281
2 Sebastian Vettel (Ferrari) 241
3 Kimi Räikkönen (Ferrari) 174
4 Valtteri Bottas (Mercedes) 171
5 Max Verstappen (Red Bull) 145
6 Daniel Ricciardo (Red Bull) 128

Die volgende wedren word op 30 September in Rusland gejaag.

Klik hier vir meer inligting: https://www.formula1.com/

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.