Formule Een: Hamilton sal moet wag vir die Wêreldtitel  

Kimi Raikkonen. Foto: AP Photo/Toru Takahashi

Die Amerikaanse Formule Een Grand Prix (die vierde laaste wedren van die seisoen) is Sondagaand in Austin afgehandel. Die wedren is deur Ferrari se Kimi Räikkönen gewen (sy laaste oorwinning was in 2013) met Max Verstappen (Red Bull) tweede en Lewis Hamilton (Mercedes) derde. Sebastian Vettel (Ferrari) was vierde en Valtteri Bottas (Mercedes) vyfde. Hamilton sal tot aanstaande week in Mexiko moet wag om te kyk of hy die wêreldtitel kan wen.

Tydens die kwalifisering was Hamilton se intensies duidelik toe hy die eerste plek op die wegspringrooster gegaps het. Sebastian Vettel (Ferrari) is met drie posisies gestraf en moes vyfde wegspring.

1 Lewis Hamilton (Mercedes) 01:32.237

2 Kimi Räikkönen (Ferrari) 01:32.307

3 Valtteri Bottas (Mercedes) 01:32.616

4 Daniel Ricciardo (Red Bull) 01:33.494

5 Sebastian Vettel (Ferrari) 01:32.298

Met die wegtrek het Ferrari gemengde welslae gehad. Kimi Räikkönen (Ferrari) het die voortou geneem terwyl sy spanmaat, Sebastian Vettel (Ferrari), ʼn paar draaie verder getol het en teruggesak het na die 15de plek. Lewis Hamilton (Mercedes) was tweede en sy spanmaat, Valtteri Bottas (Mercedes), derde. Daniel Ricciardo (Red Bull) was in die vierde plek.

In ronde nege het Daniel Ricciardo (Red Bull) vir die soveelste keer die seisoen langs die baan gestop met tegniese probleme. Max Verstappen (Red Bull) het ná die voorval in die vierde plek ingeskuif. Die virtuele veiligheidsmotor het verhoed dat enige posisies kon verander. Lewis Hamilton het in dié tyd die kuipe besoek vir nuwe bande.

Tydens ronde 22 het Lewis Hamilton (Mercedes) die voortou geneem.

Halfpad deur die wedren was Lewis Hamilton in die eerste posisie gevolg deur Kimi Räikkönen (Ferrari), Max Verstappen (Red Bull), Valtteri Bottas (Mercedes) en Sebastian Vettel (Ferrari) vyfde.

Hamilton het in ronde 38 die kuipe vir ʼn tweede stel nuwe bande besoek en teruggesak na die vierde plek. Kimi Räikkönen (Ferrari), Max Verstappen (Red Bull) en Valtteri Bottas (Mercedes) het die eerste drie posisies beklee.

Uiteindelik het Ferrari se Kimi Räikkönen gewen met Max Verstappen (Red Bull) tweede en Lewis Hamilton (Mercedes) derde. Sebastian Vettel was vierde en Valtteri Bottas (Mercedes) vyfde.

Op die jongste punteleer spog Hamilton met ʼn voorsprong van 70 punte.

1 Lewis Hamilton (Mercedes) 346

2 Sebastian Vettel (Ferrari) 276

3 Kimi Räikkönen (Ferrari) 221

4 Valtteri Bottas (Mercedes)  217

5 Max Verstappen (Red Bull) 192

6 Daniel Ricciardo (Red Bull) 149

Die Meksikaanse Formule Een Grand Prix (die derde laaste wedren van 2018) word volgende naweek gejaag. Daarna bly Brasilië en Abu Dhabi op die 2018-kalender oor.

Meer inligting is beskikbaar by: https://www.formula1.com

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.