Formule Een: Hamilton vryf dit weer in

Lewis Hamilton vier Sondag sy oorwinning. (Foto: Lars Baron, Pool via AP)

Lewis Hamilton (Mercedes) verdien baie meer krediet as na wat na sy kant toe kom.

Hamilton het Sondag op Spa-Francorchamps die Belgiese Formule Een-Grand Prix op indrukkende wyse ʼn vierde keer gewen.

Vervelig, het die meeste ondersteuners gesê, want Hamilton het van die begin af voorgejaag en was nooit onder druk nie.

Maar kom ons lig maar die hoed vir die Brit, of jy nou van hom hou of nie, want hy het (weer) meesterlik bestuur.

Hoekom kry sy spanmaat, Valtteri Bottas, dit nie reg nie om hom in die skadu te stel nie?

Hulle jaag tot in dieselfde motors.

Ja, maar die span trek vir Hamilton voor, word daar gesê.

Bottas was oudergewoonte tweede gevolg deur Max Verstappen (Red Bull), Daniel Ricciardo (Renault), Esteban Ocon (Renault) en Alexander Albon (Red Bull).

Dit was ʼn vervelige wedren, met die enigste werklike aksie in die tiende ronde toe Antonio Giovinazzi (Alfa Romeo) in ʼn muur vasgejaag het, een van sy wiele losgespring het en dit tot gevolg gehad dat George Russell (Williams) ook in ʼn muur vasgejaag het.

Maar die res was gaap-gaap, want Hamilton was toe reeds eerste, Bottas tweede en Verstappen derde… en só het hulle geëindig.

Dit was Hamilton se 89ste loopbaanoorwinning en hy kort nog net twee oorwinnings om Michael Schumacher se rekordgetal van 91 te ewenaar.

Hamilton is nou 47 punte voor Verstapppen op die kampioenskap-puntelys en 50 punte voor Bottas.

Volgende Sondag word die Italiaanse F1-ren op Monza beslis.

Dis dalk ʼn goeie ding dat daar geen toeskouers toegelaat word nie, want ná Ferrari se powere 13de en 14de plekke in België sal net daar rooi gesigte wees vir ʼn span wat jare lank F1 oorheers het.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

Michael ·

Daar was nog altyd ‘n nr 1 en 2 renjaer in die spanne al ontken die spanne dit al vir jare. Dis ook nie waar dat die 2 motors van ‘n span se verrigting abs identies is nie. Die nr 2 jaer se motor se verrigting is altyd net daai ietsie minder. Neem Hamilton weg by Mercedes , maak Bottas nr1 met dieselfde kar en hy wen net so gereeld as Hamilton. In formule 1 is dit die motor en die nr 1 renjaer wat alles bepaal.

Moedeloos ·

Ferrari het baie teleurgestel. Ek het baie resep vir Mercedes maar na die BLM het ek geen sin vir Hamilton nie

Simon ·

MB het self erken dat hul oorwinnings baie met hul renmotor tedoen het. Met vandag se tegnologie is dit nogal verbasend dat daar sulke groot gapings tussen MB en die res bestaan. Sal nie verbaas wees as daar later vuilspel ontbloot word nie.

koos10 ·

En sal hulle daarmee wegkom soos Ferrari? Skuus ek bedoel sal die FIA dit ook met dieselfde deursigtigheid hanteer soos met Ferrari?

twaalfboor ·

Maak die kampioen punte verskil tussen 1ste 2de en 3de plekke kleiner en daar sal tot en met die laaste wedren van die seisoen baklei word vir die kampioenskap. Soos dit huidiglik is kan die kampioenskap al in die middel van die seisoen beklink word.

koos10 ·

Ironies genoeg is dieselfde gesê van Michel Schumacher in sy goue jare. Wat ek net ontstellend vind van die FIA is, dat hulle MB wil inperk met die enjin modusse. Ek kan nie onthou dat hulle dit al ooit gedoen het nie. (Klink soos in SA, as ons nie die mense kan ophef to by andere nie, dan bring ons net die andere af!)
Die karre en bestuurstyle van Hamilton en Bottas verskil. Bottas is nie Nr. 2 bestuurder in die span en hy aanvaar sy lot daar. Kyk net wat gebeur as die Nr.2 bestuurder die Nr.1 begin aanvat, dink Ferrari. Die hele span val uit dit bus.
Ek was gister geskok in die Ferrari span se planloosheid en nuttelose inligting wat hulle vir die bestuurders gegee het. Dit het kompleet soos hulle eerste F1 wedren geklink, en dit is vit my ‘n bewys dat hulle op gegee het!
Dan die olifant in die kamer, hoe kan ‘n F1 kar se wiel afkom en ‘n ander kar van die baan afhaal? Ek het al baie erger botsings gesien en die wiele was nog altyd deur die kabels gehou.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.