Formule Een: Hamilton wen sy vyfde wêreldtitel in Mexiko

Lewis Hamilton van Brittanje glimlag nadat hy pas die Mexikaanse Formule Een Grand Prix-kampioen geword het (28 Oktober 2018). Foto: AP Photo/Marco Ugarte

In Formule Een is die Mexikaanse Formule Een Grand Prix (die derde laaste wedren van 2018) Sondagaand oor 71 rondes afgehandel. Lewis Hamilton se vierde plek was genoeg om aan hom sy vyfde wêreldtitel te besorg. Die wedren is deur Max Verstappen (Red Bull) gewen met Sebastian Vettel (Ferrari) tweede en Kimi Raikkonen (Ferrari) derde.

Lewis Hamilton (Mercedes) het verlede jaar sy vierde wêreldkroon in Mexiko gewen en hy het dit wéér op die Hermanos Rodriguez-baan vermag om as wêreldkampioen van 2018 gekroon te word.

Tydens die kwalifisering het Lewis Hamilton (Mercedes) die derde plek op die wegspringrooster verower. Red Bull het sake oorheers en die eerste twee plekke ingeneem.

1 Daniel Ricciardo (Red Bull) 01:14.759
2 Max Verstappen (Red Bull) 01:14.785
3 Lewis Hamilton (Mercedes) 01:14.894
4 Sebastian Vettel (Ferrari) 01:14.970
5 Valtteri Bottas (Mercedes) 01:15.160

Met die wegtrek het Daniel Ricciardo (Red Bull) teruggesak na die derde plek terwyl sy spanmaat, Max Verstappen (Red Bull), die voortou geneem het. Lewis Hamilton (Mercedes) was tweede met Sebastian Vettel (Ferrari) vierde en Valtteri Bottas (Mercedes) vyfde.

Red Bull se Max Verstappen vier sy eersteplek in die Mexikaanse Formule Een Grand Prix-wedren wat Sondag op die Hermanos Rodriguez-baan gejaag is (28 Oktober 2018). Foto: AP Photo/Moises Castillo

Tussen die 12de en 14de rondes het Mercedes-motors asook Red Bul-motors die kuipe besoek vir nuwe bande. Meeste van die top-spanne het weer bande geruil kort voor die 50ste ronde. Red Bull was hierná eerste en tweede, Ferrari derde en vierde met Mercedes vyfde en sesde.

Met nege rondes oor het Daniel Ricciardo (Red Bull) se motor weer meganiese probleme ontwikkel en sy wedren was iets van die verlede. Valtteri Bottas (Mercedes) het vir ʼn derde keer die kuipe besoek met slegs sewe rondes oor.

Die wedren is uiteindelik deur Max Verstappen (Red Bull) gewen met Sebastian Vettel (Ferrari) tweede en Kimi Raikkonen (Ferrari) derde.

Op die jongste punteleer is Hamilton nou 64 punte voor Vettel.

1 Lewis Hamilton (Mercedes) 358
2 Sebastian Vettel (Ferrari) 294
3 Kimi Raikkonen (Ferrari) 236
4 Valtteri Bottas (Mercedes)  227
5 Max Verstappen (Red Bull) 216
6 Daniel Ricciardo (Red Bull) 149

Die tweedelaaste wedren van die jaar word op 11 November in Brasilië gejaag en word gevolg deur die laaste wedren wat in Abu Dhabi afgehandel sal word.

Meer inligting is beskikbaar by: https://www.formula1.com/

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Frans C ·

Vettel laat ‘n mens bietjie aan die WP dink,wat ook sy kanse verbrou het om as kampioen
gekroon te word,vermors het.

Schalk ·

Blok jou kompetisie maak jou nie noodwendig ‘n eerbare wenner nie. Hamilton en Mercedes se spanwerk het die sport se deure vir my toegemaak. Bottas is ‘n tweederangse drywer en sportman om dit toe te laat. Sies F1 en Totto Wolff

Daniel ·

Ek stem volkome saam. Dit blyk ook asof Red Bull, meer spesifiek Reckless Max, as Mercedes se derde bestuurder diens gedien het. Hy het op meer as een geleentheid die Mercedes by hom laat verbysteek om net daarna vir Vettel van die baan af te ry of minstens probeer ry. Ricciardo is ‘n opregte sportman. As sy motor se enjin meer betroubaar was en as Christian Horner hom dieselfde as Mad Max hanteer het, was hy dalk 2018 kampioen.

Renier ·

As daar in die verlede gekyk word na die McLaren/Honda vennootskap, kan ek sien hoekom Ricardo eerder Renault toe skuif as o, by Red Bull te bly wat volgende jaar Honda gaan gebruik.
Ricardo is volgens my n kampioen in wording.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.