Formule Een: Mercedes, Hamilton het nie hul gelyke

Argieffoto van Lewis Hamilton Foto: (AP Photo/Luca Bruno/Pool)

Vinniger, verder en hoër.

Dit is ʼn slagspreuk wat ʼn mens eerder aan die Olimpiese Spele en atletiek koppel, behalwe as jy ook ʼn Formule Een-ondersteuner is.

Die Mercedes-renspan het sy algehele oorheersing in vanjaar se Formule Een-reeks Sondag in Italië voortgesit toe Lewis Hamilton in Imola die Emilia Romagna- Grand Prix gewen het met sy spanmaat, Valtteri Bottas, tweede.

Dit was Hamilton se 93ste loopbaanoorwinning en die 11de keer vanjaar dat Mercedes eerste in 13 renne kon eindig.

Mercedes het die vervaardigerstitel ʼn rekordgetal sewende opeenvolgende keer gewen, met ʼn volle vier renne nog oor.

Mercedes se grootste teenstander, Red Bull, het ʼn nagmerriedag beleef toe Max Verstappen in die 55ste rondte ʼn lekband opgedoen het en sy motor in die gruis beland het nadat van die ander bande ook beskadig is.

Daniel Ricciardo (Renault) was derde, gevolg deur die Rus Danill Kvyat (AlphaTauri), Charles Leclerc (Ferrari) en Sergio Perez (Racing Point).

Hamilton het nou ʼn ongelooflike 282 punte op die puntelys, gevolg deur Bottas (197) en Verstappen (162).

Mercedes spog met 479 punte, gevolg deur Red Bull (226) en Renault (135).

Dit was maar ʼn vervelige ren en die grootste opwinding is gelewer toe die Brit George Russell ʼn ongeluk gemaak het nadat hy agter die veiligheidsmotor wat ontplooi is, gery het.

Russell het baie vies op die gras langs die baan gesit en oorgekook toe een van die beamptes hom wou bystaan.

Dít terwyl Hamilton, Bottas en die Mercedes-span die oorwinning in sig gehad het.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Anton ·

Wie kyk nog die vervelige spul. En dit is van ‘n ou wat tot Maleisië toe gevlieg het om daar ‘n GP te kyk ????

Frans ·

En wie moet Hamilton bedank-natuurlik Mercedes want sonder Mercedes is Hamilton nog maar net ‘n vinnige bestuurder van ‘n motor wat kop en skouers bo die res uitstaan.As jy wil weet of ‘n bestuurder werklik goed kan bestuur-kyk dan na so iets soos Volkswagen racing Cup-al die motors is identies en dit is net die bestuurder en sy vernuf,

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.