Die tweede laaste Formule Een Grand Prix van 2018 word Sondag in Brasilië gejaag. Die wedren word op die Jose Carlos Pace-baan in die distrik van Interlagos in Sao Paulo aangebied.
Twee weke gelede is die Mexikaanse Formule Een Grand afgehandel en Lewis Hamilton se vierde plek was genoeg om aan hom sy vyfde wêreldtitel te besorg. Die wedren is deur Max Verstappen (Red Bull) gewen met Sebastian Vettel (Ferrari) tweede en Kimi Räikkönen (Ferrari) derde.
Alhoewel die 2018-titel reeds gewen is, is daar steeds individuele prestasies wat belangrik is vir renjaers om hulself aan spanne te bewys en ook om voor te berei vir 2019. Die 33-jarige Hamilton het in 2008 sy eerste wêreldtitel juis in Brasilië verower. Tydens sy vorige 11 besoeke aan Brasilië kon Hamilton net een keer wen en twee keer eerste wegspring.
Op die jongste punteleer is Hamilton 64 punte voor Vettel.
1 Lewis Hamilton (Mercedes) 358
2 Sebastian Vettel (Ferrari) 294
3 Kimi Räikkönen (Ferrari) 236
4 Valtteri Bottas (Mercedes) 227
5 Max Verstappen (Red Bull) 216
6 Daniel Ricciardo (Red Bull) 149
In die vervaardigers-afdeling gaan Mercedes komende naweek poog om vir ʼn vyfde agtereenvolgende jaar die 2018-titel te wen. Op die punteleer is Mercedes 55 punte voor Ferrari. Die twee jaers van Red Bull, Daniel Ricciardo en Max Verstappen, kan ook vir hul span heelwat punte bymekaar maak.
1 Mercedes 585
2 Ferrari 530
3 Red Bull 362
4 Renault 114
5 Haas 84
6 McLaren 62
7 Racing Point Force India 47
8 Sauber 36
9 Toro Rosso 33
10 Williams 7
Die oefenrondes begin Vrydag en die kwalifisering word Saterdag afgehandel. Die hoofwedren word Sondag om 19:10 gejaag.
Die laaste wedren sal op 25 November in Abu Dhabi plaasvind.
Meer inligting is hier beskikbaar.